OUDTSHOORN NUUS - Jason Jafta (64), bekende langafstandatleet van Oudtshoorn, het onlangs sy 31ste Comrades-marathon met 'n tyd van 9 uur en 56 minute voltooi en in die proses 'n Robert Mtshali-medalje verower.
Die Comrades Marathon is 'n ultramarathon van ongeveer 88 kilometer wat jaarliks in KwaZulu-Natal tussen Durban en Pietermaritzburg gehardloop word. Dit is ook die wêreld se grootste en oudste ultramarathon.
Jafta wat in die 60 jaar en ouer kategorie deelgeneem het gesê dat hy vanjaar verbeter het op sy tyd van 2022.
"Hierdie jaar het ek 48 minute vinniger gehardloop as in 2022 en my gemiddelde spoed was 06:57 minute per km. Na die wedloop het ek ook geensins styf gevoel of enige beserings opgedoen nie wat op my ouderdom algemeen is. Ek dink my voorbereiding was tops en hier moet ek vir Johann Coetzer 'n pluimpie gee wat my afgerig het. Ons het 'n spesiale oefenprogram uitgewerk waarvan ons nou die vrugte van pluk en nou kan ons net verbeter," het Jafta gesê.
Coetzer (65), 'n SA meestersatleet, het op sy beurt gesê dat hy baie trots is op Jafta en die goeie tyd wat hy behaal het.
"Sy passie vir atletiek is ongelooflik en dis baie lekker vir my om saam met hom te werk.
"Meeste van ons oefeninge doen ek saam met hom en dit hou my ook fiks. Alhoewel ek baie tevrede is, weet ek ons kan selfs nog beter en dis waarom ons reeds van volgende week af begin om hom voor te berei vir volgende jaar se Comrades."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’