OUDTSHOORN NUUS - 'n R200 000 hupstoot vir Langenhoven Gimnasium se opkomende KKS Gimmies-sporttoernooi wat van 24 tot 27 April in Oudtshoorn plaasvind is Maandagoggend, 16 Maart, deur die skoolhoof, Carl Snyman in ontvangs geneem.
Dawid Malan van KKS (Klein Karoo Saadproduksie) het die tjek oorhandig.
Volgens Snyman sien die skool met groot opgewondenheid uit na die KKS Gimmies-sporttoernooi.
"Hierdie gewilde sportnaweek bring skole, spelers, ouers en ondersteuners bymekaar vir 'n viering van sportgees, talent en gesonde kompetisie. Die toernooi beloof om 'n hoogtepunt op die skool se sportkalender te wees, met 'n indrukwekkende aantal spanne wat gaan deelneem.
In rugby sal 13 spanne meeding, terwyl sewe netbalspanne hul vaardighede op die bane gaan wys. Die hokkie is ook sterk verteenwoordig met nege seunspanne en tien meisiespanne wat mekaar die stryd gaan aansê."
Gedurende die naweek kan toeskouers uitsien na opwindende wedstryde, goeie sportmanskap en die geleentheid om jong sporttalent in aksie te sien. Die sportterrein van Langenhoven Gimnasium sal die ideale atmosfeer skep waar spelers hul beste kan gee en ondersteuners saam kan kuier en die wedstryde geniet.
"Langenhoven Gimnasium wil ook graag sy opregte dank uitspreek teenoor die toernooi se borge wat hierdie geleentheid moontlik maak. 'n Spesiale woord van waardering aan Klein Karoo Saad, Klein Karoo Saadproduksie en Agrofors vir hul waardevolle ondersteuning en betrokkenheid by die ontwikkeling van skolesport. Die skool nooi die gemeenskap, ouers, oudleerders en sportliefhebbers om deel te wees van hierdie besonderse sportnaweek. Kom ondersteun die spanne, beleef die opwinding van skolesport en vier saam met ons 'n naweek van hoë gehalte sport en Gimmie-gees. Ons sien uit daarna om almal vir 'n onvergeetlike sportnaweek by Langenhoven Gimnasium te verwelkom."
Malan het genoem dat dit die tweede jaar is wat die maatskappy betrokke is by die sportgeleentheid. "Dit is vir ons 'n groot eer en voorreg om op die manier te kan bydra tot die groot sportdag."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’