Gallery
OUDTSHOORN NUUS - "Mag hierdie toernooi vir elke speler, afrigter en ondersteuner 'n ervaring wees wat lank in die hart sal bly leef - vol opwinding, trots en mooi herinneringe," het Carl Snyman, skoolhoof van Langenhoven Gimnasium, in sy verwelkomingsboodskap by die afgelope naweek se KKS Gimmies Sporttoernooi gesê.
Die toernooi, met Klein Karoo Saad (KKS) as hoofborg, is verlede jaar vir die eerste keer aangebied en toe reeds het KKS se David Malan gesê die toernooi gaan in die eerste plek oor sportmangees en integriteit, nie oor wen of verloor nie.
Met vanjaar se verwelkomingsboodskap het Malan gesê: "Sport speel 'n wesenlike rol in die vorming van karakter, die bevordering van 'n gesonde leefstyl, die kweek van dissipline en spanwerk."
Hy het benadruk dat sport ook aan jong spelers die geleentheid bied om waardes soos deursettingsvermoë en respek as eienskappe te vestig wat hulle lewenslank sal bybly.
Vanjaar se deelname van die eerstespanne van 18 hoërskole was indrukwekkend met 12 rugbyspanne, sewe seunshokkiespanne, 11 dogtershokkiespanne en agt netbalspanne.
Die toernooi het Vrydag 24 April om 15:20 begin en die openingseremonie met al die spanne was om 19:30. Saterdag se program was stampvol met die eerste hokkiewedstryd wat reeds om 07:00 begin het. Die laaste wedstryd vir die dag het onder spreiligte om 19:50 plaasgevind.
Sondag was 'n rusdag vir al die spanne, wat hulle die geleentheid gegee het om die omgewing te verken.
Die toernooi het Maandagmiddag afgesluit met 'n rugbywedstryd tussen Oakdale en Gimmies wat om 13:40 begin het. Sportspanne het in die koshuise van Langenhoven Gimnasium tuisgegaan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’