OUDTSHOORN NUUS - Vir die meeste tienermeisies is rugby dalk net 'n sport om na te kyk, maar vir Shenell Lottering, 'n graad 11-leerder van Langenhoven Gimnasium, is dit 'n passie wat haar van kleins af gevorm het. Sy het vroeër vandeesmaand haar plek tussen die land se jong rugbytalent ingeneem toe sy as skrumskakel vir die SWD o. 18- meisiesrugbyspan uitgedraf het tydens die FNB o. 18-meisiesrugbyweek.
Shenell is boonop die enigste jong vrou van Oudtshoorn wat vir die SWD-span gekies is.
Haar liefde vir rugby het reeds op vierjarige ouderdom begin toe sy haar pa, Anver Lottering, sien rugby speel het.
"Ek het maar langs die rugbyveld grootgeword. Ek het nooit saam met die dogtertjies gespeel nie en het rugby saam met die seuns gespeel," vertel sy.
Shenell behoort tans nie aan 'n spesifieke rugbyspan nie en oefen soms saam met die Infanterieskool se vrouerugbyspan. Haar pa is ook betrokke by haar afrigting.
Sy is sedert gr. 8 elke jaar vir die SWD-span gekies, 'n prestasie wat getuig van haar volgehoue toewyding aan die sport.
"Ek speel netbal by die skool, maar rugby is waar my hart lê," vertel sy.
"My droom is om eendag vir Suid-Afrika uit te draf en vrouerugby te bevorder en af te rig. Rugby is 'n harde sport, maar dit is verskriklik lekker. Jou lyf raak gewoond aan die tackles en vroue het beskerming waar nodig."
Volgens Shenell kan meisies reeds van so jonk as sewe jaar oud begin rugby speel.
"Hulle begin met tag rugby, waar vlaggies aan hulle vasgemaak word en hulle die vlaggies van ander spelers moet probeer afvat. Daar word aanvanklik meer op vaardighede gefokus en soos jy ouer word, leer jy die meer tegniese en taktiese aspekte van die spel."
Anver Lottering saam met sy oudste dogter, Seisha Lottering, self ’n kranige rugbyspeler. Foto: Verskaf
Vir haar pa is Shenell se rugbyloopbaan 'n bron van groot trots.
"Sy was baie klein toe sy met rugbyballe langs die veld begin speel het. Ons is maar 'n rugbyfamilie. Shenell se suster, Saisha (21), speel vir die Griekwa-vrouespan in die weermag."
Anver is betrokke by die departement van korrektiewe dienste se sport en rekreasie en help daarom ook met sy dogter se afrigting.
Hy erken egter dat dit aanvanklik nie maklik was om te sien hoe sy dogter op die rugbyveld geduik word nie.
"Die meisies duik hard en ek moes myself keer om nie op die veld op te hardloop nie, maar dit is deel van die game. Ek het later vir haar gesê: 'As jy getackle word, tackle jy net harder terug'."
Shenell is vasbeslote om aan te hou werk aan haar rugbydrome. Dié jong skrumskakel se oog is nou op die toekoms gerig met die uiteindelike droom om eendag die groen en goud van Suid-Afrika aan te trek en haar merk in vrouerugby te laat.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’