KANNALAND NUUS - ’n Jong atleet van Kannaland het geskiedenis gemaak toe hy in die Wes-Kaapse landloopspan opgeneem is.
Alvino Martins (11), ’n gr. 5-leerder van Amalienstein Lutherse Berlynse Primêre Skool, het op 30 Augustus in Stellenbosch saam met vier ander leerders as deel van die SWD-span deelgeneem. Sy puik vertoning het die aandag van die keurders getrek en hom ’n plek in die Wes-Kaapse span besorg.
Volgens sy afrigter, Reggie Booysen, is Alvino ’n toegewyde atleet wat nooit oefeninge mis nie.
“Hy is maklik om af te rig omdat hy die motivering en deursettingsvermoë het om te presteer,” sê Booysen.
Alvino is nou gekies om op 4 Oktober aan ’n nasionale kompetisie in Mpumalanga deel te neem. Om sy deelname moontlik te maak, sowel as om die nodige uitrusting aan te koop, is ’n bedrag van sowat R6 000 nodig.
Die skoolhoof, Leshmè Bosman, het bevestig dat die skool ’n gedeelte van die koste sal dra, maar doen ’n beroep op die publiek om te help om die volle bedrag bymekaar te maak.
Enigiemand wat ’n bydrae wil maak kan haar by 028 561 1382 kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’