OUDTSHOORN NUUS - Laerskool Laurus in Oudts-hoorn het Woensdag 10 Junie sy 10de bestaansjaar met 'n spesiale vieringsprogram vir leerders, personeel en genooide gaste herdenk.
Gerrit Janse van Vuuren, adjunkhoof van die skool, het tydens die verrigtinge 'n kort oorsig van die skool se geskiedenis gegee. Hy het verduidelik dat die skool op 10 Junie 2016 van Laerskool Oudtshoorn-Noord na Laerskool Laurus herdoop is.
Danelle Fourie, 'n onderwyser aan die skool, het in haar toespraak gesê dat die skool met trots en dankbaarheid sy eerste dekade vier.
"Tien jaar gelede het Laurus 'n nuwe baadjie aangetrek met 'n visie om te groei en te oorwin. Die doel was om 'n plek van leer en geleenthede vir elke kind te skep. Vandag staan ons hier as getuies van hoe daardie droom 'n werklikheid geword het."
Volgens Fourie het Laerskool Laurus oor die afgelope dekade nie net in leerdergetalle gegroei nie, maar ook in karakter, prestasies en gemeenskapsgees. Waar die skool tien jaar gelede sowat 150 leerders gehad het, huisves dit vandag meer as 650 leerders.
Sy het ook hulde gebring aan die skoolhoofde en onderwysers wat deur die jare 'n betekenisvolle bydrae gelewer het.
"Hulle het nie net kennis oorgedra nie, maar ook harte gevorm, selfvertroue gebou en waardes gevestig wat leerders vir die res van hul lewens sal dra. Hul toewyding, geduld en passie het gehelp om 'n veilige en inspirerende omgewing te skep waarin kinders kan floreer."
Sy het verder beklemtoon dat geen skool alleen kan groei nie en haar waardering uitgespreek teenoor ouers, die beheerliggaam en die breër gemeenskap vir hul volgehoue ondersteuning, tyd en betrokkenheid.
Die skoolhoof, SW Vorster, het die verrigtinge afgesluit met 'n boodskap van dankbaarheid.
"Ons groei jaarliks in getalle, prestasies en toewyding."
'n Besondere hoogtepunt van die viering was die bekendstelling van 'n spesiale tydkapsule deur Martiné Koch. Die tydkapsule, wat eers oor tien jaar weer geopen sal word, bevat verskeie herinneringe en dokumente wat die skool se geskiedenis en kultuur weerspieël.
Onder die inhoud is die Sonstraaltjies se handafdrukke, die program van die 10de bestaansjaarviering, briewe van die skoolhoof en beheerliggaam, die skoolrëels, 'n tekening van die skoolwapen, leerders se voorstelle vir toekomstige skooldrag, 'n verduideliking van waarom Laurus se leerders as "Meerkatjies" bekendstaan, asook 'n uitgawe van Oudtshoorn Courant.
Die tydkapsule sal in 2036 geopen word en dien as 'n waardevolle bewaring van die skool se geskiedenis vir toekomstige geslagte.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’