OUDTSHOORN NUUS - Liefhebbers van koormusiek kan op Vrydag 7 Augustus uitsien na ’n besonderse aand wanneer die kore van Langenhoven Gimnasium in Oudtshoorn en Hoërskool Hugenote van Wellington die verhoog deel tydens Saamgestem 2026 - ’n Aand van koormusiek en vriendskap.
Die geleentheid beloof om meer as net ’n konsert te wees en sal talent, vriendskap en die vreugde van saam musiek maak vier.
Langenhoven Gimnasium se skoolkoor vier vanjaar sy tweede bestaansjaar. Volgens Retha van Zyl, die skool se koorleier, het die koor verlede jaar reeds saam met Hoërskool Hugenote se koor opgetree.
“Johann Enslin, hul koorleier, het ’n absolute passie vir musiek en die kinders het dit geweldig geniet om saam te sing,” sê Van Zyl.
Die Gimnasium-koor sal vier liedere tydens die geleentheid uitvoer, waarna die Hugenote-koor ook die gehoor met hul musiek sal vermaak. Die twee kore sal daarna as ’n massakoor saam optree met die liedere Let the River Run en Piano Man.
Die konsert vind om 18:30 by die NG Kerk Park in Oudtshoorn plaas.
Kaartjies kos R80 vir volwassenes en R50 vir kinders en is aanlyn op WeTicket beskikbaar.
Die publiek word genooi om familie en vriende saam te bring vir ’n aand van pragtige koormusiek, inspirerende optredes en die spesiale gees wat deur musiek geskep word. Die geld wat deur die konsert ingesamel word, gaan ten bate van Langenhoven Gimnasium se koor.
Hoërskool Hugenote se skoolkoor. Foto: Verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’