OUDTSHOORN NUUS - Theunis Venter van Langenhoven Gimnasium is vanjaar Oudtshoorn se topleerder nadat hy 'n uitsonderlike slaagsyfer van 92,14% behaal het. Sy prestasie is die resultaat van volgehoue harde werk, dissipline en 'n duidelike doelwit voor oë.
Theunis het verlede jaar konstant onder die topdrie op die skool se merietelys verskyn.
Hy beskryf sy medeleerders, Nika Potgieter en Annamé du Plessis, wat onderskeidelik tweede en derde geëindig het, as 'n groot bron van motivering. "Hulle het my aangevuur om elke keer net nóg bietjie meer in te sit," het hy gesê.
Theunis beplan om vanjaar aktuariële wetenskap aan die Universiteit van Pretoria (Tukkies) te studeer. Hy verduidelik dat die vooruitsig om 'n beurs te bekom een van sy grootste dryfvere was.
"Ek het hard gewerk sodat ek 'n beurs kon kry om te gaan studeer. Dit was my grootste aansporing," het hy verduidelik.
Hy het ook beklemtoon dat geloof 'n belangrike rol in sy matriekjaar gespeel het.
"Ek het gebid en Bybel gelees, en dit het geweldig baie gehelp om kalm en gefokus te bly," sê Theunis. Volgens hom verg akademiese uitnemendheid groot opofferings. "Om jou punte hoog te hou is harde werk. Dis baie ure insit en min slaap, maar dis regtig die moeite werd."
Benewens akademie het Theunis ook daarop gefokus om veelsydig te bly en nie net tot boeke beperk te wees nie. Hy het aan debat deelgeneem, wat hom gehelp het om krities te dink en selfvertroue te bou.
Sy raad aan 2026 se gr. 12-leerders is eenvoudig maar kragtig: "Stel vir jouself 'n mikpunt en werk daarvoor. Met toewyding, geloof en deursettingsvermoë is enigiets moontlik."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’