OUDTSHOORN NUUS - Beza Nace, 'n bekende erdwurmboer van Oudtshoorn, het verlede week die seniorkampus van Eljada Kairos Skool besoek om leerders meer oor erdwurms te leer en hulle prakties te wys hoe om hul eie wurmplaas te begin.
Volgens Elmarie Potgieter, een van die skool se opvoeders, vorm landbou deel van die leerders se skoolkurrikulum. Die besoek was daarop gemik om die teorie op 'n praktiese en tasbare manier aan die leerders te verduidelik.
Nace het aan die leerders verduidelik dat erdwurms 'n belangrike rol in die gesondheid van grond speel. Wanneer erdwurms deur die grond beweeg en tonnels grawe, help hulle om die grond losser te maak. Dit verbeter die belugting en dreinering van die grond, sodat lug en water makliker dieper kan indring.
Erdwurms speel ook 'n belangrike rol in die hersirkulasie van voedingstowwe. Hulle breek organiese materiaal, soos dooie plantmateriaal, af en verwerk dit tot voedingryke wurmgietsels. Hierdie materiaal bevat belangrike voedingstowwe, onder meer stikstof en fosfor, wat plante benodig om gesond te groei.
Een van die belangrikste produkte van erdwurms is vermikompos, oftewel wurmkompos. Dit word deur erdwurms vervaardig wanneer hulle organiese materiaal soos kombuisafval, eierdoppe, teesakkies, koffiegronde en papier afbreek.
Vermikompos is nie net 'n natuurlike bemestingstof nie, maar bied ook 'n eenvoudige manier om organiese huishoudelike afval te herwin. Dit is waarom tuiniers dikwels daarna verwys as "swart goud".
'n Neweproduk van die proses is wurmtee, 'n vloeistof wat tydens die komposproses gevorm word en wat, wanneer dit korrek voorberei en gebruik word, as 'n vloeibare bemestingstof in die tuin gebruik kan word.
Ná die teoretiese gedeelte het Nace die leerders prakties gewys hoe om hul eie wurmplaas op te stel. Hy het verduidelik hoe die houers ingerig moet word en hoe die verskillende lae van organiese materiaal, afvalpapier en kompos gepak word om 'n geskikte leef- en broeiplek vir die erdwurms te skep.
Die leerders kon sodoende eerstehands sien hoe gewone kombuis- en tuinafval deur erdwurms in waardevolle kompos omskep kan word.
Nace verkoop sy eie erdwurms, kompos en wurmtee wat hy self vervaardig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’