PRINS ALBERT NUUS - Suid-Afrika se kampioenspeller in gr. 3 is 'n leerder van Prins Albert Primêr.
Kurshnee Kammies het tydens die Sanlam Nasionale Spelfees op 3 Oktober by die Universiteit Stellenbosch gewys hoe 'n kampioen spel. Sy het al die ander gr. 3-deelnemers van die agt deelnemende provinsies uitoorlê. KwaZulu-Natal het nie deelgeneem nie.
Prins Albert Primêr se speltalent strek egter veel verder as Kurshnee. Die land se naasbeste speller in gr. 3 én die naasbeste in gr. 7 is ook leerders van dié skool. Donhiqwin Plaatjies het 'n silwer medalje vir haar tweede plek in gr. 3 gewen, terwyl Riana Fransen in gr. 7 ook met 'n silwer medalje weggestap het.
Volgens Diana Koorts, 'n onderwyser by Prins Albert Primêr, het die skool vyf leerders vir die kompetisie ingeskryf. Benewens die drie medaljewenners het die ander twee ook uitstekend gevaar en onder die land se 10 beste spellers in hul onderskeie grade geëindig. Chadia Fransen in gr. 4 het die sewende plek behaal, terwyl Rayneeq Arends in gr. 3 negende geëindig het.
"Ons skool spog met van die beste spellers in die land, en hulle het werklik rede om trots te wees," sê Koorts.
Die sukses het maande se harde werk en voorbereiding geverg. Die leerders en onderwysers het reeds in April met die voorbereiding begin.
"Dit het beteken dat die leerders elke pouse, sommige middae ná skool en selfs op Saterdae en gedurende die vakansie hul spelling geoefen het," vertel sy.
Die leerders moes nie net die woorde leer wat vir hul onderskeie grade voorgeskryf is nie, maar ook woorde uit ander grade. Moeiliker uitdagingswoorde was eweneens deel van die kompetisie.
Vanjaar het die organiseerders egter 'n tweede stel uitdagingswoorde uit die hoed gehaal wat die deelnemers onkant betrap het. Ondanks dié ekstra uitdaging het Prins Albert Primêr se leerders puik presteer.
Medaljes vir spel is boonop niks nuuts vir die skool nie. Verlede jaar het Prins Albert Primêr se leerders twee goue en een silwer medalje gewen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’