LADISMITH NUUS - Vir die 18-jarige Jimenay Opperman van Hoërskool Ladismith was 2025 alles behalwe 'n maklike jaar.
Haar matriekjaar, wat reeds met akademiese druk en uitdagings gepaard gegaan het, is verder oorskadu deur 'n ingrypende persoonlike tragedie wat haar lewe onherroeplik verander het.
Op Sondag 7 September 2025 is die opslaanwoning waarin haar ma, Eleanor Opperman, gewoon het, aan die brand gesteek.
Eleanor het tragies in die brand omgekom. Jimenay, wat ten tyde daarvan by haar ouma gewoon het, het die ontstellende nuus laat die Sondagoggend ontvang.
"Ek het in ontkenning gegaan. Ons was baie na aan mekaar," het Jimenay Dinsdagoggend vertel terwyl sy haar NSS-uitslae in haar hand vasgehou het. Ten spyte van haar diep hartseer en rouproses, moes sy kort daarna die eindeksamen aanpak. "Ek het die NSS-eksamen met baie hartseer geskryf, maar ek het geweet daar is nie 'n tweede kans nie," het sy gesê.
Volgens Jimenay het Hoërskool Ladismith se skoolhoof, Donovan Fortuin, persoonlik toegesien dat sy professionele ondersteuning ontvang.
Sy het ook groot waardering uitgespreek vir die personeel se deurlopende ondersteuning en begrip gedurende hierdie uiters moeilike tyd.
Ten spyte van alles het Jimenay 'n slaagsyfer van 68% behaal, 'n prestasie wat haar deursettingsvermoë, innerlike krag en vasberadenheid weerspieël.
Sy is tans nog onseker oor haar toekoms, maar fokus daarop om eers emosioneel te herstel en haar volgende lewensfase met sorg te beplan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’