OUDTSHOORN NUUS - Met die eksamentyd wat vinnig nader-kom, heers daar groot kommer oor vier laerskole in die Eden- en Sentraal-Karoo-distrik wat steeds gesluit bly ná die verwoestende vloede van die afgelope twee weke.
Volgens die woordvoerder van Wes-Kaapse onderwysdepartement, Bronagh Hammond, sluit die geaffekteerde skole Voorbedag Primêr en Grootkraal UCC Primêr in die Matjiesrivier-gebied, Rooiheuwel VGK Primêr buite Oudtshoorn in die rigting van Karoo Lusern, asook Kommandandtdrift SSKV Primêr in die Uniondale-omgewing in.
"Die voortgesette sluiting is kommerwek-kend gegewe die verlies aan onderrig- en leertyd. Die distrik is reeds in gesprek met die betrokke skole oor moontlike inhaalprogramme en verdere ondersteuning," het Hammond dié week gesê.
Sy verduidelik dat die tipe hulp wat aan skole gebied word, afhang van elke instelling se unieke behoeftes en akademiese beplanning.
"Ondersteuning word bepaal deur elke skool se tydlyne en vereistes vir kurrikulumlewering, assesserings en eksamens. Elke kwartaal het spesifieke leeruitkomste wat bereik moet word. Hoewel die formele eksamenperiode nog nie begin het nie, kan die sluiting van skole 'n direkte impak hê op beplande assesserings en toetse wat nou herskeduleer en ingehaal sal moet word."
Volgens Hammond is die skole hoofsaak-lik gesluit weens paaie wat deur vloedwater verspoel is.
Dit maak dit onmoontlik en onveilig vir onderwysers om daagliks vanuit die dorp na die skole te reis, terwyl leerdervervoer ook ernstig ontwrig is.
Die situasie word verder bemoeilik deurdat die Matjiesrivier-gebied reeds byna twee weke sonder elektrisiteit is, wat addisionele druk op skole, personeel en leerders plaas.
Die onderwysdepartement monitor die situasie deurlopend en sal skole eers heropen wanneer toegangspaaie herstel en veiligheid vir beide onderwysers en leerders verseker kan word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’