OUDTSHOORN NUUS - Gedagtig aan die stormskade die afgelope dae, skryf Jopie Coetzee:
Ode aan Meiringspoort
Die klofie bokant Watervaldrif in Meiringspoort is my eerste liefde waarheen ek elke keer vir geestelike woema terugkeer.
Hier, in die heilige stilte van my klipkatedraal, hoor ek die goue klanke van God se skeppingsmusiek. Hier verwonder ek my aan die naaldekoker wat tussen die waterdiamantjies deur in die rotspoel heen en weer in die sonlig dans.
My beminde Swartberg is nog jonk, skaars driehonderd miljoen jaar - oud soos ’n hubare dogter in mensetaal.
Vir my lê haar skoonheid in die geheimenis van haar kragte wat opstoot, aftrek en wring om ontelbare tonne rotse te herdefinieer. Haar oerverhaal word vertel in die geologiese wonderskrif van sinkliene, antikliene, monokliene, verskuiwings en ombuigings.
Sy grimeer haar oergelaat met boaardse skakerings van oker om haar bewonderaars nog verder te betower. Haar skoonheid is ontluikend, elke millennium mooier as die vorige.
Haar flanke is versier met akkerbos en klaaslouwbos aan die skadukant en met kriebos en heuningklokkiebos aan haar sonkant. Haar fonteine snoep nie met haar waters nie. Bedags hou die arend oor haar wag en gee met sononder die volmag aan die uil oor vir die nagwaak.
Vlieswolkies wat kantel oor kruine en sweef deur klowe kondig die koms van ’n bruid aan. Die bottergeel en purper blomme langs die pad se rand is soos konfetti wat gestrooi is om die mistieke een-word van bruid en bruidegom te vier.
Die orals mooi laat my klein en gering, maar geborge voel. Ja, die natuur bekragtig die Skriftuur. Hoe jammer is dit as die mens, al is dit net een in ’n duisend, nie aangeraak word deur die hemelse uitroep van hierdie rotse nie.
Die kronieke van die natuur se Woord is in my hart se punt vasgegrond, in my verstand vasgegrif en op niere vasverbond.
Net soos met Jesus se kruisiging, is hierdie aarde ook geskud en is hierdie rotse ook vervorm om almagtig aan te kondig dat ek die erfgenaam is van al God se beloftes op aarde en in die hemel; die grootste liefdesverklaring ooit.
Ek maak my oë toe en dank Jesus dat Hy my met hierdie ewigheidsoomblik aangeraak het om te verstaan hoe die klippe sy Naam, sy almag uitroep om harte van klippe te omskep na harte van Gees wat sy lig weerkaats.
Coetzee is ’n gepubliseerde skrywer van Mosselbaai. Dié ode is ’n uittreksel uit sy Paasroman, Aangeraak in die maalstroom van die Paasgebeure.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’