KOMMENTAAR - Die skrywer Daniël Lötter sê Minister Gayton McKenzie het met 'n streep van sy pen 240 jaar se geskiedenis uitgevee toe hy Graaff-Reinet en ander dorpe in die Karoo se name verander het.
Lötter het 'n diep verbintenis met die Karoo en is ook bekend met George, waar hy in 1991 aan Hoërskool Outeniqua matrikuleer het.
Hierdie hartseer, pragtige onthou-artikel het Lötter gister op sy eie Facebookblad geplaas en toe met Group Editors Mediahuis - wat ook www.graaffreinetadvertiser.com publiseer - gedeel.
Lees meer oor Lötter aan die einde van sy onderstaande artikel.
‘n NAAM KAN JY STEEL, HERINNERINGE NIMMER
In die periode toe ek op Graaff-Reinet betrokke was by die vestiging van ‘n gemeenskapsradiostasie, was ‘n hoogtepunt van die Sondagnamiddag se terugry daarheen, van Aberdeen se kant af, om die verwelkomende gesig van Spandaukop te sien opduik.
En wanneer jy verby die hospitaal ry en oor die brug met die lang hoofstraat tot voor die kerk om links te draai, om in die middagstilte die fluisterstem van verwelkoming en gasvryheid te hoor.
Graaff-Reinet, waar die silwer Nagmaalservies wat deur die Lötter-stamvader gemaak is in die ou kerk staan.
Waar jy op ‘n stil Sondagaand teen skemer die dawerende stem van ou dominee Murray kan hoor wat die verlossende boodskap van die evangelie oor die suidland dra.
Waar jy, in die strate, wat na die Sondagsrivier kronkel, jou kan verbeel dat die voetspore van Andries Pretorius en Andries Hendrik Potgieter nog lê. Die kinderspel van die latere president TF Burgers en president Boshoff op die sypaadjies verbeel.
Vir ‘n oomblik kan wonder hoe lank die kraak van ‘n Gert Maritz-wa in die ewigheid vertoef? Het Louw Wepener hier leer skiet? Het PK Albertyn sy eerste rugbybal hier opgetel om ‘n drie te druk?
Is daar iets, in die klanke van musiek uit die huisies langs die strate, wat nog die stem van S le Roux Marais dra, of in die honderde duisende woorde wat hier geskryf is, ‘n asemteug van Anna Neethlingh-Pohl en WO Kuhne en Dalene Matthee en die Hobsons?
Is dit Anton Rupert se lag wat dalk weerklink voor die Drostdy? Is dit ‘n skaars hoorbare eggo van DF Malan se sonore stem wat nog klink?
Hoeveel herinneringe, dade en woorde bly hier hang van die tallose somersdae en winternagte tussen 1786 en nou?
Waar is die erns van die rebelle wat in 1795 ‘n republiek hier uitgeroep het, of die 8 manne wat hier tereg gestel is as Kaapse Rebelle tydens die Anglo Boereoorlog?
Hoe het ek soms nie gewens, as ek bo van die krans by die Vallei afgekyk het op die dorp, dat ek weet presies waar in hierdie ryke aarde Gideon Scheepers se liggaam lê nie!
Hoeveel keer het ek dan nie gesluk teen my bitterheid as ek verby die ou tronk stap waar oupa Rooijan as negejarige seuntjie toegesluit is omdat hy ‘n Rebel was nie. En waar sy oom Johannes Lötter aangehou is voor hy op 12 Oktober 1901 by Middelburg op ‘n stoel vasgebind is en doodgeskiet is. Hy was 24 jaar oud!
Ek herinner my die rykdom van kennis oor die kruiebossies en wortels wat ek oor ‘n koppie namiddagtee by tant Agatha Paoloni kon leer.
Of die verdwaal in die geskiedenis van wie ons is om ‘n tafel met ‘n glasie rooiwyn en ‘n bord skaapbredie by oom Patrys Smit.
Die oopmondverwondering aan die kennis oor skaapwol en bossieveldweiding by oom Soois van Zyl in sy kantoor vol skaapvelle en sakke bene.
Ek onthou die stilte van ‘n gemeenskap langs ‘n straat wanneer ‘n geliefde gesin, wat in ‘n motorongeluk oorlede is, begrawe word. En die geur van Corrie se varsgebakte brood.
Ek onthou Graaff-Reinet.
En skielik, uit die bloute, word 240 jaar se geskiedenis, verlangens, hartseer, vreugde, lag, prestasie en herkoms, met die penstreep van ‘n minister uitgevee en begin Graaff-Reinet se storie meteens op 27 Februarie 1978 toe Robert Sobukwe sterf. Skielik is Graaff-Reinet jonger as ek.
Wat beteken dit vir die mense wat in die elmboog van die Sondagsrivier woon? Niks. Behalwe dat dié wat gister werkloos en sonder brood of hoop in ‘n krot in Graaff-Reinet gesit het, nou werkloos en sonder brood of hoop in ‘n krot in Robert Sobukwe Dorp sit.
En vir dié wat met soveel trots altyd gesê het: “Ek is ‘n Graaff-Reinetter”, is dit asof ‘n deel van wie jy is doodgesteek is. Geamputeer is. Uit jou los geskeur is, sodat daar ‘n rou wond sit.
En dit maak seer.
Die skrywer en akademikus, Daniël Lötter. Foto: Facebook
Wat beteken dit vir die res van die land? Niks, behalwe dat dit vir ‘n nasie wat smag daarna om in vrede met mekaar saam te leef en mekaar te probeer verstaan net nog ‘n uitmekaardryf is. Net nog wantroue en haat skep.
Waarom kan daar nie bygevoeg word tot wie ons is nie? Waarom moet die een deel se hartsgoed, se wie-is-ek-wees verniel word om plek te maak vir die ander s’n?
Waarom is ons so dom? Waarom Here, waarom, maak ons mekaar so stukkie vir stukkie dood?
In een van sy novelles, ek het die naam nou vergeet, sê een van Stephen King se karakters: “The more you try to change history, the more history will resist you. You f*ck with history, history f*cks with you!”
Gaan ons ooit leer om te probeer om die toekoms te verander, (want dit kan ons doen), en op te hou om die geskiedenis te verander, want dit is klaar geskryf?
Op Aberdeen lê my kinderspore langs dié van die jonge Van Heerden wat op die kerkplein doodgeskiet is deur die Engelse.
Daar lê die kinderspore van my pa bo-oor dié van die jong Baxter wat tereg gestel is omdat hy ‘n paar honger boere gehelp het met brood en water vir hulle perde.
Daar rus oom Danie Swanepoel van die winkel en tannie Joycie wat altyd so lekker gelag het wanneer sy die rolle materiaal op die toonbank ooprol.
Daar is die laaste krummels van die modderkoekies langs die waterslote en die laaste klank van een van oom Piet Lategan se grappies, die ademteug van tant Kobie se geurige gemaalde koffie.
Daar lê Farewell se rooidakhuis vanwaar jy die kerktoring van die voorstoep af kon sien. Daar groei die palmiete nog en waak die drakies op die landdroskantoor se dak. Daar rus oupa Jan en ouma Chris. Alles is nog daar.
Behalwe die naam. Aberdeen het nie meer ‘n naam nie. Daar is niks meer wat herinneringe kan anker nie.
Herinneringe aan Xamdeboo het ek nie, herinneringe aan Robert Sobukwe Dorp bestaan nie. Herinneringe se wortels is uitgekap.
En dit maak seer.
Wanneer wil ons leer om mekaar nie meer seer te maak nie? Dit laat jou eie seer niks beter voel nie. ‘n Oog vir ‘n oog laat ons almal blind.
Ons kan Oos-Londen na KuGompo verdoop en vroom praatjies maak oor die betekenis wat iets te doen het met “rasende waters.” Dit bly nog steeds die klank van ‘n groot dr*l wat onder in ‘n longdrop land.
En dit is bitterheid wat my dit laat sê. Ek wil nie meer bitter wees oor hierdie dinge nie. Maar ek kan nie anders nie.
Ek weet nie of ek weer Graaff-Reinet toe wil gaan nie. Ek weet nie of ek Aberdeen weer wil sien nie. Hulle is nou vermink en onteer. My herinneringe is gesteel en besmeer.
En ons is vandag nog armer, nog meer verdeeld, nog meer verward en moedeloos en agterdogtig en kwaad en ontnugter.
Ek hou diep binne-in my ‘n trommeltjie waar ek herinneringe bêre aan Grahamstad en Somerset-Oos en Port Elizabeth en Oos-Londen en veral Aberdeen en Graaff-Reinet.
Ek sal hom nou en dan oopmaak en dit koester en waardeer, met die vrees dat ek dit oor ‘n paar jare nie met die volgende geslag kan deel nie. Dit sal my siel skeur as ‘n kind eendag vir my moet vra: “Waar is dit? Ek ken nie so ‘n plek nie?”
Ek het lank terug, een Sondagaand toe die son goud en ryk oor Graaff-Reinet ondergaan, gesê: “As my tyd om Huis toe te gaan eendag kom, strooi ‘n handjievol van my as oor hierdie aarde langs Spandaukop.”
Nou wil ek dit nie meer hê nie. Ek sal nie ewige rus en vrede kan hê op ‘n gesteelde plek nie.
Daniël Lötter
Stellenbosch
10 Februarie 2026
Die biografie van die akademikus en skrywer, Daniël Lötter op Litnet lees as volg:
Daniël Lötter is in 1973 op Fraserburg in die Karoo gebore en matrikuleer in 1991 aan Hoërskool Outeniqua, George. Daarna studeer hy in die teologie, kommunikasiekunde en onderwys en spandeer ’n aantal jare in die uitsaaiwese, plaaslik en in Europa (Brittanje, Nederland en Denemarke).
Sedert 2016 is hy verbonde aan ’n TVET-kollege in die Kaapse Wynlande as Programbestuurder van Vaardigheidsontwikkelingsprogramme. Hy is ook deeltyds betrokke by die Bôrdienghuisteater op Wellington en die Langenhoven Gedenkfonds.
Hy woon in die Paarl in ’n stokou kothuisie en staan voltyds in onderdanige diens van vier uitgelate worshonde.
Hy het al ’n hele aantal boeke geskryf.
Sy jongste boek, Waar die lammers nie suip nie, is ‘n ware verhaal en speel af op ‘n Karooplaas.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’