RUBRIEK - Die storie van die 9-jarige AJ Lombard, 'n leerder aan Montesorri-skool in Oudtshoorn, wat verlede week besluit het om met sy miniatuur John Deere-trekker die gras te sny op die hoek van Park- en Voortrekkerweg het my die week regtig laat wonder oor ons deel wat ons as inwoners vir ons dorp doen.
AJ is 'n is 'n klein seuntjie met 'n groot hart wat sy deel vir die gemeenskap doen. Hoewel dit dalk meer oor die trekker gegaan het, het hy seker nie nodig gehad om die munisipaliteit te gras te sny nie. Hy is Donderdagmiddag, 22 November, deur die burgemeester van Oudtshoorn-munisipaliteit, Johan Allers, opgemerk terwyl hy gras gesny het.
"Ek het Donderdag vir die eerste keer geleer om die trekker te ry en dit was baie maklik, toe leer ek hoe om die gras te sny en nou geniet ek dit," vertel hy met 'n groot glimlag.
Volgens Allers is hierdie 'n perfekte voorbeeld van die 'Ek help ook'-projek wat hy van die been af wil bring sodat inwoners eienaarskap van hul dorp kan neem.
"Die onbaatsugtige gebaar het my laat wonder waarom is dit so moeilik vir ons as mens om net uit jou eie, sonder enige bohaai terug te ploeg in die gemeenskap? Om self in te spring as 'n liefdestaak vir jou dorp, 'n trots om in hierdie pragtige Karoo-dorp te woon."
Dit laat my dink aan die gesegde van wyle president John F Kennedy, "Ask not what your country can do for you, ask what you can do for your country."
Ja, belastingbetalers het die reg om te kla oor dit wat krap, maar hoeveel doen ons as inwoners werklik uit ons eie vir die dorp, die gemeenskap, vir mekaar?
Ubuntu, die Zulu-woord wat letterlik beteken, 'I am, because we are,' is 'n konsep wat elkeen kan nastreef waarin jou sin vir self gevorm word deur jou verhoudings met ander mense. Dit is 'n wyse van lewe met die uitgangspunt dat 'ek is' net omdat 'ons is.' Dit gaan daaroor om bymekaar te kom en 'n konsensus te bou oor wat die gemeenskap raak en hoe jy as inwoner 'n verskil kan maak.
Interessant, belangrike vergaderings, ten goede van die gemeenskap word swak bygewoon, hoewel dit wyd en suid geadverteer word, maar sodra 'n kwessie, 'n misdaad of ongerieflikheid jou direk raak is dit tyd om stem dik te maak, wat tereg gesê enige belastingbetaler se demokratiese reg is, maar hoeveel is jy bereid om te doen om 'n wesenlike verskil te maak? Hoe betrokke is jy regtig in die gemeenskap?
Waarom is dit so moeilik vir die mensdom om sonder vergoeding betrokke te raak, terug te gee of net bloot om te gee?
Ons almal wil in 'n ordelike, skoon en veilige omgewing woon. Die munisipale owerhede, plaaslike polisie, wetstoepassing, verkeersdienste, asook heelwat ander instansies doen daagliks hul onbaatsugtige deel, ja teen vergoeding, maar 'n groot meerderheid van hulle doen meer as wat van hul verwag word. Hul stap die ekstra myl, hul doen in plaas om net te praat, hul raak betrokke, maak 'n verskil.
'n Klein gebaar, deur 'n kind om gras te sny uit sy eie behoort vir elke inwoner van die dorp, 'n voorbeeld te wees. Elkeen kan op sy eie beskeie manier tog 'n verskil maak. Kom ons staan saam as gemeenskap en raak betrokke waar jou hart voel dis nodig. Kom ons kweek 'n omgewing van Ubuntu.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’