OUDTSHOORN NUUS - ’n Groot groep inwoners, gemeenskapsleiers en lede van Oudtshoorn Community Against Crime (OCAC) het Donderdagmiddag, 22 Mei, in Dysselsdorp bymekaargekom vir die soveelste kranslegging, die keer vir ’n onbekende, onskuldige baba. Tydens die kranslegging is bekendgemaak dat dit ’n meisie was.
Sy is eenvoudig in ’n swart sak op ’n vullishoop gegooi en aan die brand gesteek. Of sy reeds dood was of lewend aan die brand gesteek is, is nou op forensiese dienste se tafel om alle toetse en ondersoeke te doen om die oorsaak van haar dood te bepaal.
Terwyl ek die kranslegging bywoon sien ek die vrae en hartseer op die gesigte van die gemeenskap - ’n daad wat gepleeg is in hul midde, sonder gewete, sommer net so asof dit normaal is om so ’n daad te pleeg. Vrae word gevra van hoe ’n man dit kon doen terwyl daar soveel vroue is wat so ’n kind enige tyd sal grootmaak.
Ek het destyds ’n boek deur Carla van der Spuy getiteld Mens of Monster - Die psige van 'n misdadiger', gelees.
In die boek stel sy die vraag: “Hoekom moor, kaap en verkrag mense en hoekom doen hulle dit soms herhaaldelik? Wat kan so verskriklik verkeerd loop in ’n mens se psige dat jy in ’n monster verander? Wat maak van ’n mens ’n monster - en skuil hierdie monster in almal van ons?
Sommige kenners meen dat enigeen van ons onder sekere omstandighede moord sal kan pleeg. Ek. Jy. Enigeen.”
Dat geweldsmisdaad slegs in die stede gebeur is lankal ’n mite. Hier in die Karoo gebeur moorde gereeld, waarvan die nuutste, ’n onskuldige babadogtertje wat skaars ’n kans op lewe gehad het. Maar hoekom? Gewone mense soos ek en jy sukkel om sulke dade te verwerk of sin daarvan te maak. Hoe moor jy sonder dat jou gewete jou pla? Al wat sin maak is dat so ’n persoon ’n monster moet wees, want geen normale, regdenkende, Godvresende mens sal so ’n daad pleeg nie - of gebeur dit wel? Buiten ‘gewone’ moord is huurmoord en moord waar kinders betrokke is, seker van die skokkendste.
Hoe meer ek hieroor dink, hoe meer verstom is ek want antwoorde kan ek nie vind nie - vrae wel.
Hoe gewetenloos moet jy wees om iemand te betaal om ’n moord te pleeg? Wat gaan in ’n kind se kop aan wat een of beide ouers vermoor - soms koelbloedig?
Is dit ’n geestesongesteldheid, kranksinnigheid of blote gewetenloosheid? Kan so ’n persoon werklik met tronkstraf rehabiliteer? Word ’n moordenaar so gebore of is dit die lewe wat een vorm?
Alles vrae waarop mens nie maklik antwoorde het nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’