OPINIE - Desember en 'n stukkie van Januarie is die tyd vir jolifikasie. Elke jaar. Ná 'n jaar van swoeg en sweet om die pot aan die prut te hou, is dit tyd vir vakansie, familie-samesyn en die skep van onvergeetlike herinneringe.
Ook op die Tuinroete en spesifiek Mosselbaai, wat as een van die voorste vakansiebestemmings in die land beskou word, sal daar behoorlik gemakietie word.
Ná Matriekbaai vandeesweek afgehandel word, sal die reuk van braaivleisvure (die Matriekbaaiers is ingestel op ander pret om hulself mee te vermaak en vleisbraai sal klink na werk) vir die volgende paar weke permanent oor die dorp bly hang.
Die karavaanparke, gastehuise en strande, waar verskillende aktiwiteite sal plaasvind, sal vol wees waar mense die son sal indrink en net ontspan. Dis mos waaroor vakansie gaan!
Meer as genoeg vermaak word ook verskaf om vakansiegangers behoorlik besig te hou. As dit nie skitterende buitelug-musiekkonserte is nie, is die jaarlikse Trans Agulhas Uitdaagvaart vir rubberbote nog een van hoogtepunte, wat elke jaar klokslag op 28 Desember plaasvind, wanneer die onverskrokke ridders van die golwe op Santosstrand uitjaag ná 'n moordende skof van Hobistrand op Plettenbergbaai.
Daar is egter 'n anderkant van die munstuk waarvan nooit vergeet moet word nie.
Ons sal op 'n daaglikse basis herinner word aan 'n klimmende noodlottige ongeluksyfer wanneer mense na hul vakansiebestemmings of op pad terug ná 'n lekker vakansie nooit hul veilige hawens haal nie.
Behalwe vir die gepaardgaande hartseer veroorsaak dit nie net grootskaalse ontwrigting vir gesinne en families nie, maar die ekonomiese impak is ook enorm.
Net in 2022 alleen is die totale aantal van 10 466 noodlottige ongelukke in Suid-Afrika op 'n verlies van R186.5 miljard of 3.3% van die Bruto Binnelandse Produk geraam. Dit sluit in die verlies aan produktiwiteit, mediese sorg, opruiming, nooddienste, polisie betrokkenheid, begrafniskoste en skade aan infrastruktuur.
Met Suid-Afrika ook aan die verkeerde kant van die weegskaal waar dit misdaad betref, sal vakansiegangers ook meer as net paraat moet wees om nie deel van die misdaadstatistiek te word nie. Vakansietye is die ideale tydperk vir misdadigers om toe te slaan wanneer oplettendheid verslap en die gees van ubuntu posgevat het.
"Klein" misdade soos byvoorbeeld die diefstal van 'n selfoon kan nog hanteer word. Dis aardse goed wat vervang kan word.
Dis egter wanneer geweldsmisdade weens onder andere alkoholmisbruik lewens op 'n onnatuurlike onherkenbaar verander.
Op 'n persoonlike vlak raak die ongemaklikheid al hoe erger hoe nader 'n mens aan die 2de Januarie beweeg.
Dit was op dié dag toe ek om 09:45 in 1995 die gevreesde oproep gekry het van my ma dat my jonger broer, Neale, in die vroeë oggendure deur inbrekers in sy restaurant met 'n telefoonkoord verwurg en sy oë met een van die kombuismesse uitgesteek is.
Slegs twee maande getroud en steeds in die vakansiegees, was dit soos 'n bak yswater wat getref het. Vanjaar sal ek vir die 29ste keer 'n kersie op dié dag om 09:45 aansteek en Pavarotti kliphard luister om sy herinneringe te herdenk.
Terwyl almal geweet het wie die skuldiges is, het die polisie gefaal in hul taak om hulle te laat boet vir hul daad. Ook twee broers en nog 'n medepligtige. Van Zimbabwe.
My ma, wat 5 maande gelede op 88 oorlede is, kon nooit berusting vind nie. Dit soos daardie oproep van haar, wat vir altyd sal bly spook.
Aan al die vakansiegangers. Geniet dit, maar wees paraat en bedag op die onnatuurlike en wees asseblief net veilig!
Disclaimer: The opinions expressed in this article are those of the author. They do not purport to reflect the opinions or views of Group Editors and its publications.