OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn- en De Rust-toerismeburo het verlede week die streek by die World Travel Market (WTM) Africa 2025, verteenwoordig. Die WTM het van 9 tot 11 April in die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum plaasgevind. Die geleentheid is een van die mees gesogte besigheid tot besigheid toerisme-uitstallings en trek jaarliks meer as 6 000 professionele persone in die reisbedryf.
Die Tuinroete en Klein-Karoo se toerismestalletjie was die tuiste vir talle bekende produkte uit die streek.
Onder die deelnemende besighede was Cango Caves, De Zeekoe Guest Farm en RJ Tours. Ander besighede wat ook deel was, was onder andere Epic Karoo Birding, Surval Boutique Olive Estate, Cango Wildlife Ranch, Buffelsdrift Game Lodge, Kleinplaas Vakansieoord, Highgate Ostrich Farm, De Denne Guest House, Mooiplaas Guest House, Cango Ostrich Farm, Rosenhof Country House, La Plume Boutique Hotel & Spa, True South Travel, Chandelier Game Lodge en Berluda Farmhouse & Cottages.
Volgens Corleen Barnard, die toerisme-bestuurder van die Oudtshoorn- en De Rust-toerismekantoor, is bestemmingsbemarking belangrik vir die streek.
Deur deelname aan WTM Africa kry plaaslike rolspelers die geleentheid om internasionale sigbaarheid te verhoog, nuwe markte te betree en waardevolle verhoudings met toeroperateurs, reisagentskappe en internasionale media te bou.
"'n Geleentheid soos hierdie stel ons in staat om direk met nasionale én internasionale toergidse en toeroperateurs in verbinding te tree. Hulle kan self ervaar en sien watter toerismeprodukte ons streek bied.
Wanneer alle rolspelers aktief betrokke is by volgehoue bemarking op sulke platforms, is die impak merkbaar en die voordele veelvuldig vir die hele area."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’