OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn- en De Rust-toerismeburo het Woensdagaand 29 November hul laaste netwerkaand van die jaar aangebied. Lede het oudergewoonte die kans gehad om meer uit te vind oor die stand van toerisme in die omgewing.
Die aand het heelwat lede na Karusa-wynlandgoed net buite Oudtshoorn in Schoemanshoek gelok.
Tammy Moult, voorsitter van die toerismeraad, het met lede gedeel dat dit tot dus ver 'n goeie jaar vir toerisme in die omgewing was, met besoekersgetalle wat goed toegeneem het.
Met die piek van die toerismeseisoen net om die draai verwag die omgewing nog meer besoekers.
Daar word ook baie vir die komende vakansietydperk beplan, onder meer die jaarlikse "Roadshow" wat op 16 Desember sal plaasvind. Besoekers wat byvoorbeeld vanaf Meiringspoort se rigting De Rust en Oudtshoorn binnekom sal daar verwelkom word deur lede van die toerismeburo.
Verder word daar môreaand, Vrydag 8 Desember 'n fliekaand by Surval-olyflandgoed beplan.
Besoek www.oudtshoorn.com om meer uit te vind oor wat hierdie twee Klein-Karoo-dorpies vir besoekers bied.
'Ons bring jou die nuutste Klein-Karoo nuus'