OUDTSHOORN NUUS - Die skoolhoof van Saartjie Voorskoolse Sentrum in Toekomsrus is moedeloos en voos baklei teen die vullis wat daagliks voor die skool gestort word.
Die skool is in Weyerslaan teen 'n oop stuk grond geleë. Voor die skool het inwoners begin om informele strukture op te slaan.
Sarie Suman, die skoolhoof sê, sy het al met die inwoners gepraat oor die gemors wat hulle daar gooi, maar haar pleidooie val op dowe ore.
"Ons bel die munisipaliteit en hulle kom maak skoon, maar dit gebeur daagliks dat inwoners kruiwaens vol huishoudelike- en tuinvullis hier kom stort. Ons moes al hoeveel keer dooie diere ook hier verwyder. Soms is die stank ondraaglik en hou 'n gesondheidsrisiko vir die kinders in."
Sarie Suman wys hoe die vullis voor die skool se hek lê. Foto: Liezl van Niekerk
Suman sê hulle werk ongelooflik hard om die skool se perseel netjies en skoon te hou.
"Ons het iemand wat gereeld inkom om die terrein en die perseel netjies en skoon te maak. Kinders moet vrylik hier kan speel. Ons leer die kinders in die skool van netheid en higiëne. Ons probeer hulle leer om die natuur te respekteer en skoon te hou, maar hoe gaan ons dit vaslê by hulle as grootmense, die mense wat saam met ons vir hul opvoeding verantwoordelik is, so 'n voorbeeld stel deur buite die skool die vullis te kom gooi?"
Suman sê sy moes na die Desember-vakansie ook die munisipaliteit laat kom het omdat hulle skaars by die hek kon inkom soos die vullis teen heinings gelê het.
"Ons is regtig moedeloos en moeg baklei en mooi gevra."
'n Navraag oor of daar teen rommelstrooiers opgetree word is aan die Oudtshoorn-munisipaliteit gestuur. Teen druktyd is nog geen antwoord ontvang nie, maar sal geplaas word sodra dit ontvang word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’