OUDTSHOORN NUUS - Vier toegewyde onderwysers van die Oudtshoorn-streek, wat onder die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) se Eden- en Sentraal-Karoo-distrik ressorteer, is onlangs vereer vir hul uitmuntende bydrae tot onderwys.
Die onderwysers wat in hul onderskeie distrikte presteer het, het die afgelope naweek hul toekennings ontvang. Hierdie toekennings vorm deel van die jaarlikse Nasionale Onderwystoekennings, wat die belangrike rol erken wat opvoeders in openbare skole speel.
Die doel van die toekennings is om onderriguitnemendheid te vier en waardering te toon vir die harde werk, toewyding en passie wat onderwysers jaar na jaar in hul klaskamers toon.
Oudtshoorn Vaardigheidskool
By Oudtshoorn Vaardigheidskool was Riaan Swart die naaswenner in die Uitnemendheid in tegnologie - verbeterde onderrig en leerkategorie. Alsje Schoeman was die distrikswenner in die Uitnemendheid in spesiale onderrigkategorie.
Swart en Schoeman is dit eens dat dit vir beide 'n voorreg was om vir die toekennings genomineer te word.
"Ons het 'n passie vir die onderwys en die werk wat ons met ons kinders doen. Om so 'n toekenning te ontvang is nie net vir ons as onderwysers nie, maar ook vir die Vaardigheidskool 'n groot eer. So 'n toekenning gee mens ook weer bietjie motivering en 'n hupstoot om weer met jou hele hart jou passie uit te leef, want dit wat jy doen word raakgesien," het Schoeman gesê.
Van Reede Skool
Merieke Davel, 'n onderwyser van Van Reede Skool, was die wenner in die Uitnemendheid in laerskoolonderrig-kategorie.
Davel sê hierdie is nie vir haar 'n kompetisie nie.
"Ek voel bevoorreg om die wenner van die toekenning te wees en sien hierdie proses as 'n geleentheid om myself te ontwikkel en te groei in die areas waarin ek kan verbeter."
Hoërskool Oudtshoorn
Vivo Venter, 'n onderwyser van Hoërskool Oudtshoorn, was die naaswenner in die Uitnemendheid in hoërskoolonderrig- kategorie.
Die skool het haar gelukgewens met haar toekenning.
"Ons is ongelooflik trots en dankbaar vir die reusebydrae wat u tot Hoërskool Oudtshoorn lewer. U beïnvloed nie net die leerders se akademiese groei nie, maar ook hul lewenspad."
Die kompetisie
Skole, beheerliggame en distriksamptenare word jaarliks uitgenooi om hul ster-onderwysers te nomineer vir verskeie kategorieë, wat uiteenlopende aspekte van onderwys dek, van gr. R tot sekondêre skool, sowel as spesialebehoefte onderrig en leierskap.
Vanjaar se kategorieë sluit in:
Uitnemendheid in onderrig (laer- en hoërskool),
Leierskap in onderwys,
Onderrig van kernvakke soos wiskunde, natuurwetenskappe en lewensvaardighede,
Tegnologie in onderwys, En die gesogte Nasionale Beste Onderwyser-toekenning.
Die wenners van die distrikte gaan in die volgende ronde die Wes-Kaap verteenwoordig. Die wenners van hierdie kategorie dring deur na die nasionale kompetisie wat in September vanjaar plaasvind. Die wenners word in Oktober aangekondig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’