LADISMITH NUUS - Ladismith Sekondêr en Hoërskool Ladismith, in Kannaland, kon behoorlik met hul vakpersentasies spog. Dié twee skole het onderskeidelik 92% en 91.7% behaal.
Donovan Fortuin, hoof van Hoërskool Ladismith, het sy buurskool, Ladismith Sekondêr, gelukgewens met hul uitslae.
Ladismith Sekondêr het in Verbruikerstudies, Engels en Toerisme 'n 100% slaagsyfer behaal, terwyl Hoërskool Ladismith gespog het met drie opvoeders wat vir meer as drie agtereenvolgende jare 'n 100% slaagsyfer in hul onderskeie vakke behaal het.
Die trotse onnies, Darren Muller (Afrikaans Huistaal), Carin Hermanus (Toerisme) en Annalize Nel (Engels Eerste Addisionele Taal) het hul sukses toegeskryf aan harde werk en samewerking tussen ouers en personeel.
Muller het ook genoem dat sy pa, David Muller, 'n oudonderwyser en sy rolmodel is. Al drie die opvoeders het die leiding en vertroue wat Fortuin in hulle stel as 'n belangrike motivering vir hul prestasies uitgewys.
Hierdie twee skole ressorteer onder Kring 1, waarvan Jeremias (Mias) du Plessis die kringbestuurder is. Kring 1 het ook die nommer-een-posisie in die Eden-Sentraal Karoo onderwysdistrik beklee.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’