OUDTSHOORN NUUS - Eljada Kairos Skool het Donderdag 10 April drie nuwe klaskamers by hul kampus vir seniors in Oostelikeweg ingewy. Genooide gaste het die spesiale geleentheid bygewoon.
Die drie klasse is teen ’n bedrag van R8.5 miljoen opgerig en toegerus met alles wat leerders benodig om hulle voor te berei vir ’n blink toekoms.
Tans is daar 30 leerders wat hieruit gaan voordeel trek, maar dit gaan aanvanklik met vyf leerders per klas afskop wat later na agt leerders per klas vermeerder sal word. Volgens Hennie Baartman, skoolhoof van Eljada Kairos, sal die distrik ’n ondersteunings- en moniteringsrol speel.
Oudtshoorn-burgemeester, Johan Allers, het in sy toespraak genoem dat hy dankbaar is vir die mense wat omgee vir die skool. “Julle toon dapperheid om met gestremde kinders te werk. Dit vat spesiale mense om dié werk te doen, want nie almal kan met behoeftige kinders werk nie.”
Kelvin Ellis, kringbestuurder, het in sy toespraak genoem dat Eljada Kairos Skool geleenthede skep vir hul kinders.
“Die filosofie van opvoeding moet omarm word.” Hy het die bestuur en personeel van Eljada Kairos Skool geloof vir die ekstra myl wat hul daagliks stap. “Julle sien die uniekheid van elke kind - hier word die kinders gesien en hulle is veilig in ’n gesonde omgewing.”
Hy het afgesluit deur Baartman te loof vir sy visioenêre leierskap en om verder as die hede te kyk.
“U sien nie net wat is nie, maar wat kan wees, mag die net die begin wees vir ons kinders en aan elkeen die onderwys te gee wat hulle verdien.”
Meer oor Eljada Kairos Skool
Eljada Kairos Skool is ’n skool vir kinders met spesiale behoeftes en die skool poog om ’n veilige omgewing vir gestremde kinders te skep om aan skool aktiwiteite deel te neem. Die skool akkommodeer leerders met verskeie gestremdhede soos serebrale gestremdheid, intellektuele gestremdheid, fetale alkoholsindroom, downsindroom, neurodiversiteit, spina bifida en arthrogryposis multiplex congenita (AMC).
Tans is daar 270 leerders met verskeie gestremdhede in Eljada Kairos Skool waarvan 36 fisies gestremd is en 12 in rolstoele.
Fotogalery: Eljada Kairos spog met nuwe klaskamers
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’