KLEIN KAROO NUUS - 'n Hele aantal plase in die omgewing van Oudtshoorn, De Rust en Calitzdorp is tans in die mark. Dit blyk egter dat die huidige droogte nie die hoofrede is waarom boere hulle grond in die mark het nie. "Boere byt vas," sê Johan Gerber van Seeff.
Die grootste aantal plase wat hy op sy boeke het is nie kommersiële plase nie, maar leefstylplase wat wissel van so klein as 1 ha tot 4 000 ha.
Behalwe vir die feit dat sommige boere tans bitter swaar kry en eerder hulle grond verminder is daar 'n hele aantal ander redes vir die verkoop van plase.
Van die redes sluit in:
- Erfopvolging: Soms moet 'n boer maar die plaas verkoop omdat sy kinders nie wil boer nie;
- Konsolidasie: Soms verkoop 'n boer 'n onproduktiewe gedeelte van sy plaas ten einde 'n meer produktiewe deel te ontwikkel;
- Spekulasie: Soms koop 'n boer grond, ontwikkel dit – maak landerye en boor vir water/bou 'n dam – en verkoop dit dan weer teen meer as dubbel die prys;
- Ontwikkeling: Soms sit 'n boer gedeeltes van sy plaas in die mark as deel van sy ontwikkelingsplan wat hom toelaat om verder te ontwikkel;
- Finansieel in die knyp: Soms word 'n boer genoop om weens persoonlike omstandighede, byvoorbeeld 'n skeisaak, sy plaas in die mark te sit.
Boere van De Rust het onlangs oortollige landbouvoertuie en -implemente op 'n spesiale veiling in De Rust aangebied. "'n Mens kon die uitwerking van die droogte sien: boere het swaar gekoop aan die duurder items," het Anton Schoeman, voorsitter van De Rust-landbouvereniging gesê, maar bygevoeg dat dit darem nie 'n "uitverkoop-" of "weggee-veiling" was nie.
"Die boere kry baie swaar," het Pieter Schoeman, nog 'n De Rust-boer bevestig. "Daar begin plase in die mark kom van boere wat nie meer kan uithou nie."
Vir sommige boere is al genade dus om maar die plaas in die mark te sit. "Boere is trots en sal nie sommer reguit vir jou sê hulle is finansieel in die knyp nie," sê Gerber.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'