OUDTSHOORN NUUS - Die munisipale bestuurder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, Walter Hendricks, is Maandag tydens 'n raadsvergadering geskors en 'n nuwe waarnemende munisipale bestuurder is in dieselfde vergadering aangestel.
Chris Macpherson, voormalige burgemeester, het Dinsdag saam met hul koalisievennote, DA, Icosa, Saamstaan en Good aan die media gesê dat 'n direkteur ook geskors is.
Volgens Macpherson was daar in Augustus 'n raadsbesluit dat 'n direkteur in die munisipale bestuurder se plek sou waarneem indien hy om een of ander rede nie sy pligte kon nakom nie. Die direkteure wat moes waarneem, is ook tydens die Augustus-vergadering aangewys.
"Die pos van die waarnemende munisipale bestuurder moes in elk geval volgens regulasies geadverteer word en dit moes in 'n amptelike raadsvergadering bespreek geword het. Dit is kommerwekkend dat prosedures nie gevolg word nie. Die nuwe aanstelling se CV is uitgedeel en daar is net daar besluit om hom aan te stel. Daar was geen verwysings of enigiets by nie."
Walter Hendricks Foto: Liezl van Niekerk
Die nuwe waarnemende munisipale bestuurder is Mkhululi Yekani van Midrand. Hy het Dinsdag in sy amp begin.
Vlancio Donson (Icosa) het ook gesê dat die vergadering nie wettig was nie omdat hulle tydskedule rondom dit verkeerd ingedien was.
Sonia Bentley (Good) het op haar beurt gesê dit is onaanvaarbaar dat die waarnemende munisipale bestuurder teen 'n astronomiese bedrag aangestel is terwyl Hendricks ook betaal moet word.
"Die burgemeester, Johan Allers, het gesê hy fokus op koste besparing. Is dit hoe hy kostes gaan bespaar? Die direkteur kon waargeneem het soos aanvanklik besluit en dit sou die munisipaliteit baie geld gespaar het. Dit is ook nie duidelik of daar vir sy pos begroot is nie."
Hendricks het gesê dat daar 11 klagtes teen hom is en dat hy besig is om met sy prokureur oor die aangeleentheid te gesels.
Hy is sewe dae kennis gegee om op die klagtes te reageer, maar het gevra dat die raad hom meer duidelikheid gee oor van die klagtes teen hom.
"Dit is egter nie gedoen nie, en kon ek nie volledig op die klagtes teen my reageer nie."
Hy het nie op die klagtes teen hom uitgebrei nie.
Allers het Dinsdag aangedui dat daar Woensdag 18 September 'n vergadering tussen die regering van plaaslike eenheid se partye (Vryheidsfront Plus, Patriotic Alliance, Advieskantoor en die ANC) en hul leiers gaan wees en dat hulle daarna met die media sal vergader.
Terugvoer was teen druktyd nie beskikbaar nie.
'n Navraag is ook aan Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, gestuur. Terugvoer was teen druktyd nie beskikbaar nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’