OUDTSHOORN NUUS - Die voormalige munisipale bestuurder van Oudtshoorn-munisipaliteit, Walter Hendricks, het Vrydag 12 Desember sy eerste hofverskyning in die Oudtshoorn-landdroshof gemaak. Die saak is tot 23 Januarie uitgestel.
Hy was so geskok toe hy hoor dat hy aangekla word van oortreding van die wet op plaaslike regering munisipale finansiële bestuur, omdat alle munisipale bestuurders, volgens hom, die bevoegdheid het om kerfverhogings binne die salarisstruktuur van 'n munisipaliteit te oorweeg en toe te staan.
Hendricks het gesê die verhogings is toegestaan op goeie motivering.
"Daar is niks krimineel gedoen nie en nie enige geld gesteel nie. Ek mag doen wat ek gedoen het en is ek van mening die nasionale vervolgingsgesag het die kat aan die stert beet. Daar is ook 'n raadsbesluit wat spreek tot die aksie wat geneem is. As jy ook investeer in personeel se redelike motivering vir 'n verhoging kan dit nooit as vrugteloos beskou word nie."
Die Valke se George-gebaseerde Eenheid vir Ernstige Handelsmisdaad het op 19 November 'n 64-jarige verdagte gedagvaar om op 12 Desember in die hof te verskyn. Hendricks staan tereg op aanklagte ingevolge die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (Wet 56 van 2003) en die Munisipale Stelselswet (Wet 32 van 2000).
Volgens lt.kol. Siyabulela Vukubi, woordvoerder van die Valke, was die verdagte glo tussen November 2021 en Januarie 2022 in diens van die Oudtshoorn-munisipaliteit. Hy word daarvan beskuldig dat hy growwe nalatigheid gepleeg het deur te versuim om die munisipaliteit se finansiële administrasie behoorlik te bestuur.
"Die ondersoek het aan die lig gebring dat hy nie redelike stappe geneem het om te verseker dat onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes en/of verliese voorkom word nie," het Vukubi gesê.
Daar word verder beweer dat die munisi-paliteit 'n finansiële verlies van R451 143 gely het nadat die verdagte salarisverhogings vir amptenare binne sy kantoor goedgekeur het sónder om aan die munisipaliteit se vergoedingsbeleid te voldoen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’