OUDTSHOORN NUUS - Dr. Corné Mulder VF Plus-LP en Wes-Kaapse VF Plus se leier, het vandag 2 Augustus, in ‘n verklaring gesê die nuwe regering van plaaslike eenheid (RPE) in Oudtshoorn is na die verkrummeling van die koalisie tussen die VF Plus, DA, Saamstaan en Icosa, deur partye gevorm met Johan Allers van die VF Plus as burgemeester.
“Die VF Plus het van die begin af die DA genooi om hom by die RPE aan te sluit. Die DA het die ander partye én die publiek se versoeke om Chris Macpherson te vervang deurentyd van die hand gewys en het eindelik self uit die koalisie gestap.”
Mulder het in sy verklaring die volgende redes gegee waarom Macpherson vandeesweek met 'n mosie van wantroue uit sy pos verwyder is:
(Die reaksie van die DA is onderaan elke punt gevoeg.)
- Die direkteur van infrastruktuur op Oudtshoorn is in November 2023 afgedank sonder die vereiste dissiplinêre prosesse. Die burgemeester (Macpherson) ignoreer die mening en gesamentlike koukusbesluit waar drie van die vier koalisiepartye (VF Plus, Icosa en Saamstaan) teen die afdanking stem.
- DA sê: "Die direkteur waarna verwys word het homself effektief afgedank. Dit word wetlik voorgeskryf dat hy binne 18 maande sy "competencies" moes voltooi en dit was toe reeds ver meer as dit. Die departementshoof van plaaslike regering het aan ons aangedui dat hy dadelik uit sy pos verwyder moes word aangesien daar reeds soortgelyke gevalle was van amptenare wat hulle poste moes ontruim."
- Die rede vir die afdanking spruit uit die verskuiwing van 'n rioolpyp by 'n nuwe ontwikkeling en wie vir die koste van R3,1 miljoen verantwoordelik is. Die afgedankte direkteur het daarop aangedring dat die ontwikkelaar self betaal. Die burgemeester het gesê die munisipaliteit moet betaal. Dit het wye ongelukkigheid onder die publiek tot gevolg gehad.
- DA sê: "Die redes is weer vals - Die Raad het n vooraanstaande prokureursfirma aangestel om n regsmening te gee wie se verantwoordelikheid dit is om die rioolpyp te vervang. Dit was duidelik gestel dat die munisipaliteit self daarvoor verantwoordelik was. Was dit nie vir die burgemeester se ingryping sou die grootste ontwikkeling ooit in Oudtshoorn skipbreuk gelei het. Die bewering dat die publiek ongelukkig was daaroor was eintlik die teenoorgestelde. Die publiek was woedend omdat die VF+ die ontwikkeling kon laat verongeluk."
- In Februarie vanjaar is die rioolpyp-aangeleentheid weer in die raad bespreek met die voorstel dat die munisipaliteit self die pyp moet skuif. Die koalisievennote (VF Plus, Icosa en Saamstaan) dring weer aan op 'n regsmening. Die burgemeester gaan nogtans voort en gee die munisipale bestuurder opdrag dat die pyp geskuif word.
- DA sê: "Verwys na vorige punt. Wil dit ook beklemtoon dat die ontwikkelaars self 'n regsmening ingewin het en indien die ontwikkeling gestop sou wees sou die munisipaliteit n baie duur hofgeding moes teestaan wat volgens alle regsmenings die munisipaliteit se versantwoordelikheid is. Vergeet van die skade wat Oudtshoorn as ontwikkelings dorp sou kry." (sic)
- Dieselfde scenario het afgespeel by 'n ander perseel van dieselfde ontwikkelaar waar die burgemeester ook daarop aangedring het dat die munisipaliteit die elektriese aansluitingskoste moet dra. Die direkteur en die koalisievennote se mening was dat die ontwikkelaar self moet betaal.
- DA sê: "VF+ verwys na " dieselfde ontwikkelaar" wat weer n leuen is. Die ontwikkelaars van die nuwe Karoo Markt is Dorpstraat en Mnr Lategan is die "ander ontwikkelaar" wat op n ander perseel self die elektriese koste betaal het en die munisipaliteit baie bespaar het. Sal versoek dat die ontwikkelaar die aantygings teen hom self met u opneem."
- 'n Munisipale begroting word opgestel sonder enige insette van die koalisievennote. Oor die koalisievennote se ontevredenheid hieroor was die burgemeester se antwoord dit is “my begroting” en dat die “klein partye” nie 'n sê het nie.
- DA sê: "Daar was verskeie "Budget Steering Commitee" vergaderngs gehou waarvan die Speaker nie een bygewoon het. Die VF+ het net een van die mayoral imbizos bygewoon waar die publiek hulle insette kon lewer. Daar was wel n raadswerkswinkel bele waartydens die VF+ geeis het dat hulle voorstelle aanvaar moes word. Dit is duidelik gestel dat hulle voorstelle sou lei tot n begrotingstekort van R58m." (sic)
- Die burgemeester steur hom in die raad nie aan vennote se besnoeiingsplanne vir buitensporige hoë eiendomsbelasting nie.
- DA sê: "Sien bg. Die burgemeester het wel aanpassings gemaak op die begroting na aanleiding van die publiek en koalisie vennote se insette wat verdere verligting vr pesioenarisse, verligting vir deernis gevalle en bykomende verligting op eiendomsbelasting. Hierdie vetdere verligtings het die munisipaliteit n verdere R14m gekos."
- Op 7 Junie 2024 woon die DA nie 'n koukus by nie en weer besluit die drie koalisievennote om nie die begroting goed te keur nie. Die burgemeester onderhandel buite die koalisie met die ANC en die begroting word met steun van partye buite die koalisie aanvaar. Hierdeur het die DA effektiewelik reeds die koalisie-ooreenkoms beëindig.
- DA sê: "Weereens n verdraaing van die feite. Die DA het die koukusse bygewoon maar soos reeds gestel was die eise van die vennote nie haalbaar. Die VF+ speaker het reeds voor die vorige verkiesing dit duidelik gemaak dat hulle teen die begroting gaan stem en dit hulle politieke platform gemaak het."
- 'n Gereelde klag is dat die burgemeester eensydig besluite van komitees omkeer en nie goed saamwerk met komiteevoorsitters nie.
- Die DA sê: "Die burgemeesterskomiteelede het die volste reg en geleentheid gehad om hulle komitee se standpunte oor te dra. Die burgemeester het na elke bespreking die bestuurskomitee se lede se aanvaarding gevra voor dit na die raad verwys is."
- Die burgemeester perk die magte van die VF Plus-speaker op verskeie maniere in, soos dat hy nie op die komitee van die KKNK of die water- en sanitasie-werksgroep mag dien nie.
- Die DA sê: "Dit was alombekend dat die Speaker deurlopend sy perke oorskry het en telkemale direk in die administrasie ingemeng het. Beide die vakbonde het klagtes teen hom ingedien hieroor. Die KKNK word deur die amp van n burgemeester verteenwoordig. Die Speaker het sy eie speaker se forum waarop hy dien en Burgermeesterskomiteelede is vir hulle onderskeie komitees verantwoordelik."
- Hy besluit ook dat 'n VF Plus-raadslid nie meer op die behuisingswerksgroep mag dien nie. Hierdie opdragte is onwettig, aangesien die raad die aanstellings doen en nie die burgemeester nie.
- Die DA sê: "Nie bewus van die" opdrag" Die Burgemeester kon dit nie gedoen het omdat die raad alle Art. 79 komittee voorsitters aanstel. Die persoon is dan tans nog in die posisie?"
- Die mediabeampte in die Burgemeester se kantoor word slegs vir die burgemeester gebruik en nie vir die koalisie of vir enige geen ander party nie.
- Die DA sê: "Die taakomskrywing van die Burgemeester se mediabeampte is om die publiek deurlopend op hoogte te bring van aktiwiteite in die raad en vanuit die burgemeerskantoor. Daar was geensins partypolitiek bedryf en dit was duidelik aan almal oorgedra. Inteendeel het die mediabeampte die geleenthede waar koalisie vennote namens hom opgetree het gepubliseer op die webblad." (sic)
- Die burgemeester het met die PA gekonkel om die VF Plus se plek in die koalisie in te neem, hy misbruik die PA om vals klagtes teen die VF Plus-speaker in te bring en ondermyn deurentyd die speaker.
- Die DA sê: "Die burgemeester het met die PA "gekonkel"? Snaaks, want wie is nou saam in die bed."
“Hierdie redes maak dit duidelik dat die burgemeester die koalisie-ooreenkoms en koalisievennote deurentyd geminag het. Hy het opgetree asof die DA alleen in beheer van Oudtshoorn is. In gesprekke oor die aangeleentheid het die DA-leierskap prontuit gesê niemand sal aan hulle “voorskryf” wie hulle aanwys as burgemeester nie,” lui die verklaring.
Hy het bygevoeg dat die VF Plus se siening is dat niemand voorskriftelik wou optree nie, maar dat daar bloot 'n opregte poging was om 'n bevoegde persoon as burgemeester aan te stel in belang van die inwoners van Oudtshoorn.
Die Oudtshoorn Courant het DA gevra vir kommentaar. Dit sal bygevoeg word sodra dit ontvang word.
(Die DA se kommentaar is intussen hierby gevoeg.)
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’