OUDTSHOORN NUUS - Die VF Plus in Oudtshoorn het op 21 Mei ’n mosie van wantroue teen die speaker van die Oudtshoorn-munisipaliteit, Suzanne Jansen, ingedien.
Volgens ’n verklaring van die VF Plus word die mosie deur die DA en Icosa ondersteun en spruit dit voort uit ernstige bewerings en dokumentasie wat vrae laat ontstaan oor die speaker se integriteit, neutraliteit en die behoorlike funksionering van haar amp.
Die bewerings sluit onder meer die volgende in:
- Onreëlmatige tenderprosesse.
- Ongemagtigde en onbehoorlike besteding van munisipale fondse.
- Wanbesteding rakende gesellighede, borgskappe, sportgeleenthede, verversings, ruikers, klank- en verhoogdienste.
- Moontlike misbruik van munisipale hulpbronne en geriewe.
- Finansiële wanadministrasie en die herklassifisering van begrotingsinskrywings.
- Eensydige hantering van raadsvergaderings en die ongemagtigde beëindiging van ’n raadsvergadering op 30 April.
Die mosie is aanvaar en sal tydens die volgende wettige raadsvergadering dien.
Die VF Plus het terselfdertyd ook ’n klag van bedrog by die polisie aanhangig gemaak. Volgens die party hou die saak verband met beweerde onreëlmatige tenders, finansiële ondersteuning en die misbruik van openbare fondse.
Volgens die VF Plus is die mosie ’n toets van beginsel vir alle partye in die Oudtshoorn-raad, veral die PA, ANC, Good en ander partye wat hulself tot skoon regering en verantwoordbaarheid verbind het.
Die party het aangedui dat hulle nie sal stilbly waar daar vermoedens van korrupsie en die misbruik van belastingbetalers se geld bestaan nie.
Jansen het intussen bevestig dat sy bewus is van die mosie en die kriminele klag wat teen haar ingedien is en sal so spoedig moontlik ’n verklaring hieroor uitreik
Volgens ao. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is ’n bedrogsaak op 20 Mei geopen.
“Die ondersoek na die saak is nog in ’n vroeë stadium. Die polisie is dus nie vry om besonderhede van die betrokke individue in hierdie stadium bekend te maak nie.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’