OUDTSHOORN NUUS - Die VF Plus, tesame met Icosa en die DA, het 'n mosie van wantroue teen die uitvoerende burgemeester van die Oudtshoorn-munisipaliteit, Mziwoxola Zoe Tyatya (ANC), ingedien.
Dit is vandag 10 Junie, deur die VF+-raadslid, Johan Allers, op sosiale media bekendgemaak.
Luidens sy verklaring volg die mosie nadat ’n strafregtelike klag by die polisie aanhangig gemaak is rakende ’n beweerde onreëlmatige Salga-reis- en/of verblyf-eis wat betrekking het op ’n rit na Caledon op 10 of 11 Mei.
“Na bewering het Tyatya ’n amptelike munisipale voertuig daarvoor gebruik, terwyl dokumentasie daarop dui dat ’n Salga-eis terselfdertyd ingedien en uitbetaal is. Dit laat ernstige vrae ontstaan oor moontlike dubbele vergoeding, wanvoorstelling, onregmatige persoonlike voordeel en/of die misbruik van munisipale hulpbronne,” lui die verklaring.
’n Navraag is aan die polisie gestuur om die klag te bevestig.
Volgens Allers het die speaker, Suzane Jansen, die mosie ontvang en sal dit by die volgende raadsvergadering dien. Dit is nog nie bekend wanneer die volgende raadsvergadering sal plaasvind nie.
Hierdie mosie volg minder as twee weke nadat ’n mosie van wantroue teen die speaker, ingedien deur die VF+, DA en Icosa, op 29 Mei nie geslaag het nie. Met die indiening van daardie mosie op 21 Mei het Allers ook aangekondig dat die VF+ terselfdertyd ’n kriminele klag by die polisie ingedien het.
Daardie klag het verband gehou met beweerde onreëlmatige tenders, finansiële ondersteuning en die misbruik van openbare fondse.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’