OUDTSHOORN NUUS - Groot verwarring heers tans oor die koalisiepartye in die Oudtshoorn-raadsaal.
Die Patriotic Alliance (PA) het hulself twee weke gelede uit die ANC-koalisie onttrek en mosies van wantroue teen die speaker, Sonja Bentley, onderburgemeester Vlancio Donson en burgemeester Chad Louw ingedien.
Suzane Jansen, die PA-raadslid, sou haar by die DA/VF-koalisie skaar.
Die mosies sou na alle verwagting tydens Maandag se raadsvergadering gedien het, maar dit was nie die geval nie. Die raadsvergadering het normaal voortgegaan en alle agendapunte is eenparig goedgekeur met enkele voorstelle.
Koalisies
Na afloop van Maandag se raads-vergadering het Chris Mcpherson, DA-raadslid, 'n mediakonferensie geroep waarin hy sy teleurstelling oor besluite van kleiner partye bespreek het.
Volgens hom was daar samesprekings met die Oudtshoorn Gemeenskapsinisiatief (OGI), waar Colan Sylvester die raadslid is, die PA en ook die Dysselsdorp Advieskantoor, waar Leon Campher die raadslid is, maar blyk dit dat die gesprekke met dié kleiner partye nie vrugte afgewerp het nie.
Die PA se president, Gayton McKenzie, het laat Sondagaand op hul Facebook-blad aangedui dat hulle nie met die DA gaan saamwerk nie. Binne 'n week het die PA dus teruggegaan na die ANC-koalisie.
"Ons sit in 'n baie frustrerende posisie. Ons deure staan oop vir enige gesprekke wat ander partye met ons wil voer, maar ons moet ook seker maak dat hulle eise wat gestel word billik is. Die besluite hang ook nie van ons as raadslede af nie, ons moet wag vir goedkeuring vanaf ons hoofkantoor voor ons aan eise van kleiner partye kan voldoen. Ons moet ook doen wat die beste vir ons dorp gaan wees," het hy gesê.
Johan Allers (VF) en Chris Mcpherson (DA). Foto: Liezl van Niekerk
Volgens hom ly die gemeenskap daar onder omdat dienste nie gelewer word nie.
"Mense wat vir ons gestem het, raak kwaad oor die dienste wat nie gelewer word nie, maar ons hande is afgekap. Ons kan slegs die klagtes aanmeld. Of dit deurgevoer gaan word, hang van die departemente af. Al wat ons heeldag doen is om klagtes op te volg."
Oudtshoorn Courant het die week talle gesprekke met die OGI, Advieskantoor en PA gehad.
Teen Dinsdag het Jansen gesê dat die PA bande met die DA verbreek het, die mosies teruggetrek het, en is hulle weer terug by die ANC-koalisie. Volgens Campher het hy nooit sy koalisie met die ANC verbreek nie.
"Daar is goed binne die koalisie waaroor ek ontevrede is, en ek is in samesprekings met DA, maar ek skaar myself steeds by die ANC-koalisie."
Pat Sambo, sekretaris van OGI, het Dinsdag gesê dat hul party steeds op hul eie is.
Die OGI was aanvanklik ook deel van die ANC-koalisie en Sylvester is as die speaker van die raad aangestel. Hy het egter reeds in Januarie sy bande met die koalisie verbreek en die speakerstoel behoort nou aan Sonja Bentley van Good.
"Ons het geen gesprekke met die ANC-koalisie nie, maar wel met die DA. Daar is egter nog geen definitiewe besluite geneem nie en staan ons as OGI op ons eie en behoort ons aan geen koalisie nie."
Die koalisies soos dit Woensdag teen druktyd gestaan het was, ANC, Icosa, Good, Oudtshoorn Saamstaan, Dysselsdorp Advieskantoor en PA. Die opposisie koalisie is die Vryheidsfront Plus en die DA.
Colan Sylvester, OGI-raadslid. Foto: Wyndham Ewerts
Agter die skerms
Agter die skerms blyk dit egter dat die besluiteloosheid van die kleiner partye oor waar hulle hulself gaan skaar, afhang van wie in watter stoel sit. Oudtshoorn Courant het verneem dat Campher glo die pos as onderburgemeester aangebied is en Jansen die pos as burgemeester. Dit kon egter nie bevestig word nie.
Raadsvergadering
Daar is tydens Maandag se raadsver-gadering besluit om 'n bestuurskomitee vir die IDP-begroting aan te stel. Die Eden Cycling Association hou ook vanaf 19 tot 21 Maart 'n nasionale kampioenskap in Oudtshoorn. Daar is goedgekeur dat die begroting daarvoor vanaf R20 000 na R50 000 vermeerder, mits Eden Cycling die geld gebruik vir dit waarvoor hulle dit aangevra het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'