OUDTSHOORN NUUS - Bertram Jantjies, PA-raadslid van Dysselsdorp, het Saterdag 5 Oktober bedank en homself by die DA aangesluit.
Die nuus is met skok en ongeloof deur die gemeenskap ontvang. Jantjies is in April vanjaar as PA-raadslid in Dysselsdorp verkies na Chad Louw, vorige ANC-raadslid van Dysselsdorp, uit die ANC bedank het en by die PA aangesluit het. Dit het sy pos vakant gelos en Jantjies is deur middel van 'n tussenverkiesing as die nuwe raadslid gekies.
Die nuus het bekendgeraak na Alan Winde, premier van die Wes-Kaap se besoek aan Oudtshoorn verlede week.
Jantjies het die week aan Oudtshoorn Courant gesê dat hy nie gelukkig was by die PA nie en dat hy gevoel het hulle hom nie help om sy gemeenskap op die regte wyse te dien nie.
"Ek het nie saamgestem met hoe hulle goed doen nie, en ook nie hoe hulle die dorp wil lei nie. As raadslid het ek nie ondersteuning van die party gekry nie en my wyk en die gemeenskap het daaronder gelei. Ek het dus besluit om by die DA aan te sluit. Die Groter Oudtshoorn, en veral ons Dysselsdorpers, is honger vir verandering en vir verbetering en ek weet die DA is die party wat hiermee gaan kan help."
Matthew Sims, provinsiale kommu-nikasiebestuurder van die DA, het gesê: "Ons kan bevestig dat die DA op 4 Desember in die wyk 9-tussenverkiesing sal deelneem. Die kandidaatkeuringsproses is nog nie afgehandel nie. Sodra dit afgehandel is, sal die kandidaat aange-kondig word."
Tussenverkiesing
Michael Hendrickse, Wes-Kaapse provinsiale verkiesingsbeampte, het gesê die tussenverkiesing vind Woensdag 4 Desember in wyk 9 plaas.
Die kiesersregistrasienaweek vir hierdie tussenverkiesing vind Saterdag 19 en Sondag 20 Oktober plaas. Alle registrasiestasies in hierdie wyk sal om 08:00 oopmaak en om 17:00 sluit. Die stasies is Dysselsdorp Sekondêr, Dysselsdorp Kolpinghuis, Stolsvlakte Volkskerk en Oudtshoorn Rodewal UCC Primêr. Volgens hom is daar tans 4 138 geregistreerde kiesers in wyk 9.
Inwoners van wyk 9 kan hul registrasie-stasies besoek om te registreer om te stem, besonderhede na te gaan en op te dateer. Om te registreer moet stemgeregtigde kiesers in die geaffekteerde wyke in besit wees van 'n strepieskode-ID, 'n slimkaart-ID of 'n geldige tydelike identiteitsertifikaat. Om uit te vind waar jy geregistreer is, kan jy jou registrasiestatus aanlyn nagaan by www.elections.org.za of alternatiewelik WhatsApp Hi aan die WhatsApp Chatbot by 060 088 0000.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’