OUDTSHOORN NUUS - Die aanstelling van die nuwe raadslid van Advieskantoor is die week deur die munisipale bestuurder, Walter Hendricks, bevestig.
Deandro Booysen sal by die volgende raadsvergadering, wat voorlopig op 20 Maart sal plaasvind, ingesweer word. Sy aanstelling volg na Leon Campher, wat 'n proporsionele raadslid was, in Februarie bedank het.
Hendricks het die week ook bevestig dat Chad Louw, voormalige burgemeester en ANC-raadslid se bedanking ingedien is.
Volgens hom is die inligting aan die onafhanklike verkiesingskommissie gestuur en sal daar na alle waarskynlikheid op 24 April 'n tussenverkiesing in Louw se wyk wees.
Louw het homself intussen by die Patriotic Alliance (PA) aangesluit. Hy was ten tyde van sy bedanking ook die ANC se streekvoorsitter asook SALGA (South African Local Government Association) se provinsiale voorsitter.
Volgens Ashley Sauls, woordvoerder van die PA, sal die party volgende week 'n verklaring uitreik waarin hulle sy nuwe rol sal bevestig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’