Update
OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn is tans besig om gebuk te gaan onder swak politieke leierskap wat deur persoonlike agendas gedryf word. Dit was die algemene konsensus van 'n groep mense wat verlede Donderdag met Anton Bredell, provinsiale minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelings-beplanning by Turnberry Hotel vergader het.
AfriForum het Bredell genooi om met mense en organisasies wat die afgelope ruk met hom in verbinding was te kom gesels. Die voorsitter van AfriForum, Johan Conradie, het Donderdag gesê daar heers groot kommer onder besighede, landbourolspelers en toerisme oor die wyse waarop die geskil tussen die burgemeester, Colan Sylvester, en die munisipalebestuurder, Allen Paulse, die dorp negatief raak.
Hy het verwys na die ses weke verpligte verlof waarop die DA die burgemeester gestuur het, verskeie ondersoeke wat onderneem is en kriminele klagte wat deur die burgemeester teen die munisipale bestuurder gelê is.
Hy het Bredell daarop gewys dat dit die regering se plig is om te bepaal waar die fout lê en om dit reg te stel.
Joey Potgieter, voorsitter van Klein Karoo Agri, het geen doekies omgedraai nie en gesê dit is ontoelaatbaar dat die bestuur van 'n dorp hulle eie agendas eerder as die belange van die dorp en die streek nastreef.
"As 'n besigheid se CEO en sy voorsitter van die direksie gedurig met mekaar verskil en baklei oor wat die hoofdoelwitte is en die uitvoering daarvan, dan is die maatskappy besig om ten gronde te gaan. Ek sou lankal my aandele in so 'n besigheid verkoop het.
"In Oudtshoorn kan ons egter nie ons aandele verkoop nie, want ons besit die bates. So ons moet die regte leierskap in plek kry," het Potgieter in antwoord op 'n navraag oor sy ervaring oor die gesprek gesê.
Hy het verder gesê Oudtshoorn se probleem lê in 'n politieke aanstelling wat skeefgeloop het en dat Bredell geleentheid gegun moet word om dit reg te stel. Hy het aangedui dat daar via AfriForum 'n regspad geloop sal word indien die leierskapprobleem nie binnekort opgelos word nie.
Uit die bydraes van verskeie mense by die vergadering het dit duidelik geword dat die twee senior direkteure, Chris Koch (tegniese dienste) en Felix Lötter (finansies) se bedankings direk gekoppel kan word aan die wyse waarop die raad verdeel is. Bredell het dit beaam en gesê hy kan nie toelaat dat politiek dit wat die afgelope drie jaar in die dorp vermag is, weer afbreek nie.
Sy departementshoof, Graham Paulse, het gesê dat Koch en Lötter uiters bekwame aanstellings was en dat hulle bedanking 'n groot terugslag is. Hy het ook daarop gewys dat die munisipale bestuurder onder soortgelyke politieke druk van individue moet funksioneer.
"Geen amptenaar kan sy werk na wense uitrig as hy voortdurend deur mense met eie agendas aangeval word nie."
Teen gister het Anton Bredell en die Oudtshoorn-besigheidskamer nog nie reageer op navrae oor Donderdag se vergadering nie. Bredell het wel tydens die vergadering sterk aangedui dat iets daadwerkliks binnekort gedoen gaan word om die probleem op te los.
Lees 'n verwante artikel: Positiewe reaksie op ministers besoek
'Ons bring jou die nuutste oudtshoorn, Klein Karoo nuus'