Breaking News
OUSTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit het vanoggend, tydens ‘n spesiale mediakonferensie aangekondig dat hulle vir die eerste keer in 17 jaar ‘n skoon oudit gekry het. Volgens burgemeester Chris Macpherson het Oudtshoorn geskiedenis gemaak.
“Ons het nog nooit ‘n skoon oudit gehad nie. Dit is werklik ‘n unieke geleentheid.”
Hy het gesê dat dit ‘n teken van goeie administrasie en politieke stabiliteit is.
Johan Allers, Oudtshoorn-speaker, het gesê dat hy geweldig trots is op die raadslede.
“Ons is nege verskillende partye in een raad. Die skoon oudit is ‘n definitiewe bewys dat ‘n koalisie binne die munisipaliteit kan werk. Al ons raadslede het saam gewerk om hiervan ‘n sukses te maak.”
Die direkteur van finansies, Gerald de Jager, het gesê dat daar ‘n hele span van die Ouditeur Generaal vir twee maande by die munisipaliteit was om die oudit te doen.
“Hulle het seker gemaak dat die finansies reg aangewend is, hulle het groot projekte soos die Blossoms-projek besoek. Onderhoude is met die personeel, raadslede en selfs inwoners gehou. Dit was ‘n massiewe, maar deeglike ondersoek.”
Macpherson het ook spesiaal vir Sophia Swart, senior finansiële bestuurder, die munisipale bestuurder, Walter Hendricks en al die amptenare bedank.
Lees die volledige berig in volgende week se Oudtshoorn Courant.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'