Breaking News
OUDTSHOORN NUUS - Die Vryheidsfront Plus het alle politieke partye in Oudtshoorn wat tans op die munisipale raad dien, insluitend die DA, genooi na 'n vergadering op 31 Julie om onverwyld stabiliteit in die munisipaliteit te herstel.
Dit volg na Chris Macpherson (DA) verlede Donderdag as burgmeester tydens 'n mosie uitgestem is. Die dorp het tans ook nie 'n onderburgemeester nie, omdat Vlancio Donson vroeër as onderburgemeester van die raad bedank het omdat hy as onderburgemeester van Garden Route-distriksmunisipaliteit aangestel is.
Dr. Corné Mulder, VF Plus-LP en provinsiale leier: Wes-Kaap, het vandag, 30 Julie, in 'n verklaring gesê, die VF Plus het na verlede week se vergadering die inisiatief geneem om vergadering te belê waartydens 'n regering van plaaslike eenheid (RPE) saam gestel kan word. Die RPE sal bestaan uit alle partye verteenwoordig in die Oudtshoorn-munisipale raad wat sy inwoners se belange eerste stel.
Die speaker, Johan Allers, het 'n raadsvergadering belê vir eerskomende Donderdag waar 'n nuwe burgemeester, onderburgemeester en indien nodig 'n speaker, verkies sal word. Daarna sal 'n nuwe burgemeesterskomitee saamgestel word in samewerking met die deelnemende partye om 'n RPE in Oudtshoorn daar te stel.
"Tans kan geen party in Oudtshoorn op sy eie regeer nie en is partye verplig om saam te werk. Met die oog hierop het die VF Plus 'n verklaring van voorneme opgestel wat aan al die politieke partye in Oudtshoorn beskikbaar gestel word. Die VF Plus nooi alle partye om dit te onderteken en hulle tot 'n werkende en effektiewe regering in Oudtshoorn te verbind. Stabiliteit en deursigtige, inklusiewe regering word nou dringend in Oudtshoorn benodig," lui die verklaring.
Volgens hom het die uitslag van die 2021-plaaslike regeringsverkiesing 'n baie moeilike en onstabiele werklikheid in Oudtshoorn geskep.
"Tans geniet nege politieke party verteenwoordiging in die munisipale raad wat 'n soortgelyke uitslag is as wat tans in Suid-Afrika op nasionale vlak bestaan. Dié uitslag het gelei tot 'n regering van nasionale eenheid (RNE) wat tans oor Suid-Afrika regeer."
In Oudtshoorn is die situasie as volg:
DA 7 (28%), ANC 7 (28%), VF Plus 3 (12%), ICOSA 2 (8%), PA 2 (8%), OGI 1 (4%), GOOD 1 (4%), Advieskantoor 1 (4%), Saamstaan 1 (4%).
Dit is duidelik dat geen enkele politieke party 'n meerderheidsregering in Oudtshoorn kan vorm nie.
"Hier is 'n unieke geleentheid om 'n nuwe model van plaaslike regering te skep wat tot inklusiewe groei en vooruitgang sal lei. Die VF Plus sal verseker dat die belange van die inwoners van Groter Oudtshoorn voorop gestel word en dat stabiliteit nie in gedrang kom vanweë die optrede van enige enkele party nie."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’