OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn munisipale raad het verlede Donderdag, 1 Augustus, geskiedenis gemaak toe hulle die eerste plaaslike regering geword het wat nou as 'n regering van plaaslike eenheid (RPE) bekendstaan.
Die RPE is gestig tydens 'n raadsvergadering waar 'n nuwe burgemeester, onderburgemeester en speaker aangewys is.
Dié eenheid, volgens nuutaangestelde burgemeester Johan Allers, is nie 'n koalisievennootskap nie, maar 'n eenheids-regering wat saamgestel is uit partye wat die dorp se belange eerste stel.
Partye wat die ooreenkoms geteken het is Vryheidsfront Plus, Patriotic Alliance, Oudtshoorn Gemeenskapinisiatief (OGI) en Advieskantoor.
Zoë Tyatya (ANC-hoofsweep) is as onderburgemeester aangewys en Suzane Jansen (PA) is as speaker van die raad aangewys.
Allers het tydens sy aanvaardingstoespraak gesê dat dit teleurstellend is dat nie almal die RPE onderteken het nie.
"Daar is mense wat hoop ons gaan misluk en ons teenstanders sal ons met valkoë dophou en klippe in ons pad rol. Dit gaan nie elke dag maklik wees nie, maar ons moet fokus op dienslewering en wat belangrik is vir ons dorp en sy mense. Ons moet fokus op dinge waaroor ons saamstem en nie op verskille nie. "
Volgens hom is hulle fokus primêr op dienslewering en hoop hulle om voor die einde van die jaar 'n verslag aan die inwoners te kan gee om vir die publiek te wys wat hulle reeds verbeter het.
Hy het verder genoem dat besparings vir hom van kardinale belang is en dat hulle sal verseker dat daar geen onnodige of onwettige aanstellings gemaak word nie. Hofsake behoort, volgens hom, ook tot 'n minimum beperk te word.
"Daar gaan ook geen propaganda uit die burgemeester se kantoor bevorder word nie, en ons gaan 'n kultuur van openlikheid en luister bevorder."
Die nuwe raad het ook 'n onmiddellike moratorium op alle administratiewe aanstellings ingestel, insluitend dié wat tans in proses is. Dit sal Allers toelaat om die organisasiestruktuur te hersien.
Nuwe burgemeesterskomitee
- Johan Duvenhage (VF) is as die sweep van die raad aangewys.
- Die nuwe burgemeesterskomitee wat tydens die raadsvergadering aangestel is:
- Voorsitter vir finansies: Colan Sylvester (OGI)
- Voorsitter vir die korporatiewe dienste: Dora Moos (ANC)
- Voorsitter vir die gemeenskapsdienste: Abraham Tiemie (ANC)
- Voorsitter vir die tegniese dienste: Deandro Booysen (Advieskantoor)
- Voorsitter vir die menslike nedersettings: Christene Muller (VF+)
Chris Macpherson reageer
Macpherson het na afloop van die raadsvergadering gesê dat wat gebeur het 'n teleurstelling is.
"Dit was 'n besluit wat die raad geneem het, maar was dit wat die inwoners wou hê? Die inwoners het met die plaaslike verkiesing gekies wie hulle wil hê die dorp moet bestuur, en dit was nie die party wat nou bestuur nie."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’