Update
OUDTSHOORN NUUS - Raadslid Pieter Luiters (68), een van Oudtshoorn se langsdienende raadslede, het Saterdag, 24 Februarie sy stryd teen kanker verloor.
Luiters, DA-raadslid vir Wyk 13, se politieke loopbaan het in 2000 begin.
Tydens 'n spesiale raadsvergadering op Dinsdag, 27 Februarie het die speaker, Julia le Roux-Krowitz, gesê Luiters was 'n merkwaardige man.
"Hy het 'n goeie sin vir humor gehad en altyd gesê dit gaan elke dag beter."
Die ANC se hoofsweep, Nondumiso Gunguluza, het hom beskryf as iemand wat baklei het vir menseregte.
"As hy 'n besluit geneem het, het hy by dit gehou. Hy is nie meer met ons nie.
"Ons moet nou saamstaan en eenheid toon vir dit waarvoor hy gestaan het."
Luiters se dood beteken dat 'n tussenverkiesing in Wyk 13 moet plaasvind om sy setel in die raad te vul.
Jaco Londt, die DA se lid van die parlement en voorsitter vir die oosstreek, het bevestig dat die DA hul setel sal verdedig.
Volgens Londt behoort die verkiesing vir Mei geskeduleer te word.
Luiters word oorleef deur sy vrou, Johanna en twee kinders, Anthea en Fernando.
Hy word Saterdag, 3 Maart vanuit die Christelike Herlewingskerk in Bridgton begrawe.
Die verrigtinge begin om 09:00 met 'n roudiens by sy huis, 759 Tierweg in Bridgton.
Lees 'n vorige artikel: DA raadslid oorlede
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'