OUDTSHOORN NUUS - Raadslede van die DA, VF Plus en Icosa het vanoggend, 31 Maart, vir ’n raadsvergadering opgedaag wat vir 10:00 geskeduleer was, maar gister sonder vooraf waarskuwing deur die speaker, Suzane Jansen, uitgestel is.
Chris Macpherson, wat namens die raadslede met die media gepraat het, het gesê hulle het gister na 14:00 kennis ontvang dat die raadsvergadering uitgestel is.
Volgens hom is die partye bekommerd oor die uitwerking wat die uitstel van die vergadering op Oudtshoorn se kanse op ’n skoon oudit sal hê aangesien die begroting en die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) volgens wetgewing vandag in die raadsvergadering ter tafel gelê moet word.
Die verhoging in kragtariewe wat aan NERSA voorgelê moet word, moes ook vandag goedgekeur word.
Daar is reeds voorverlede week berig dat mosies van wantroue in die PA-speaker van die raad, Suzane Jansen, sowel as die ANC-onderburgemeester, Zoe Tyatya, by die munisipale bestuurder ingedien is en ook tydens vandag se raadsvergadering moes dien.
Macpherson het gesê dat hulle ’n dokument, wat deur 13 van die 25 raadslede onderteken moet word opgestel het, om die munisipale bestuurder te verplig om teen 14:00 vanmiddag ’n raadsvergadering te hou.
’n Medianavraag is aan die speaker, Suzane Jansen, gestuur om te vra wat die redes is dat die vergadering uitgestel is.
’n Kennisgewing van die munisipaliteit is net voor 14:00 vanmiddag uitgestuur om inwoners in te lig dat die raadsvergadering op 7 April gaan plaasvind. Net die goedkeuring van die begroting en die GOP is op die agenda.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’