OUDTSHOORN NUUS - 'n Raadsvergadering word vir vandag, 1 Augustus, beplan waar daar hopelik 'n nuwe burgemeester en onderburgemeester vir die dorp gekies gaan word.
Dit volg na 'n mosie van wantroue verlede week teen Chris Macpherson, gewese DA-burgemeester van die dorp, geslaag het.
Vlancio Donson, gewese onder-burgemeester, het vroeër die maand as onderburgemeester van die raad bedank, omdat hy as onderburgemeester van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit aangestel is.
Kort na Macpherson as burge-meester uitgestem is, het speaker Johan Allers die vergadering verdaag. Geen nuwe burgemeester of onderburgemeester is gekies nie.
DA
Die DA het gisteroggend in 'n verklaring aangekondig dat Macpherson hul burgemeesters-kandidaat bly. 'n Brief van Helen Zille, die DA se federale hoof, aan dr. Corné Mulder, VF Plus-LP en Wes-Kaapse leier, is gister wyd versprei en sê sy dat hulle gegrief is oor die optrede van die VF Plus, wat die belange van individue onbeskaamd bo die belange van die inwoners van Oudtshoorn geplaas het.
Sy het in die brief genoem dat hul optrede in Oudtshoorn niks goed voorspel vir die koalisie in die Wes-Kaap en die res van Suid-Afrika nie.
Sy het verder gesê dat dit ironies is dat Mulder gevra het vir 'n stabiele regering in Oudtshoorn omdat dit juis die VF Plus se aksies was wat politieke onstabiliteit veroorsaak het.
"Die DA vertrou nie die VF Plus om stabiliteit te herstel nie. Hulle minagting van stabiliteit is duidelik gedemonstreer toe die speaker, Johannes Allers (VF Plus), versuim het om tydens die raadsvergadering voorsiening te maak vir die verkiesing van 'n nuwe burgemeester. Dit het die munisipaliteit sonder 'n uitvoerende gesag gelaat, wat dienslewering in gevaar stel," lui die verklaring.
Sy het verder gesê dat die DA nie afgeskrik word deur die optrede van die ANC en die VF Plus nie en dat hulle daartoe verbind bly om die mense van Oudtshoorn te dien.
"Ons doen 'n beroep op ons koalisie-vennote, en daardie partye wat wil hê die munisipaliteit moet floreer, om die belange van die mense eerste te stel wanneer ons 'n nuwe burgemeester kies.
Wat ook al volgende vir Oudtshoorn kom, die DA sal aanhou veg vir die mense van Oudtshoorn.
VF Plus
Kort na Zille se brief begin versprei het, het Mulder se reaksie op haar brief ook in die publieke domein beland. In beide die briewe beskuldig die twee partyleiers mekaar van koalisiebreek.
Volgens die VF Plus het hulle aangedui dat hulle met die koalisie sou voortgaan indien die DA Macpherson as burgemeester verwyder.
Luidens die brief was die VF Plus, sowel as die ander koalisievennote se ontevredenheid nooit met die DA nie, maar wel met Macpherson. Die DA wou glo nie bes gee nie, en daarom het die VF Plus met die mosie saamgestem.
Mulder het ook in sy brief aangevoer dat die DA eerste die koalisie in gedrang geplaas het na hy met die ANC saam gesweer het om die begroting goedgekeur te kry.
Hy het ook aangedui dat die VF Plus steeds bereid is om 'n werksessie te hou waarin die bestaande ooreenkoms in die Wes-Kaap bespreek word.
RPE
Die VF Plus het Dinsdag in 'n verklaring gesê hulle het alle politieke partye in Oudtshoorn, wat tans op die munisipale raad dien, insluitend die DA, genooi na 'n vergadering wat Woensdagoggend moes plaasvind.
Mulder het gesê, dat hulle na verlede week se vergadering die inisiatief geneem het om 'n vergadering te belê waartydens 'n regering van plaaslike eenheid (RPE) saamgestel kan word.
Volgens hom sal die RPE bestaan uit alle partye, insluitend die DA, verteenwoordig in die Oudtshoorn-munisipale raad wat sy inwoners se belange eerste stel.
'n Nuwe burgemeesterskomitee sal dan saamgestel word in samewerking met die deelnemende partye om 'n RPE in Oudtshoorn daar te stel.
Tans kan geen party in Oudtshoorn op sy eie regeer nie en is partye verplig om saam te werk.
Met die oog hierop het die VF Plus 'n verklaring van voorneme opgestel wat aan al die politieke partye in Oudtshoorn beskikbaar gestel word, lui die verklaring.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’