OUDTSHOORN NUUS - Die Patriotic Alliance se Ferlecia Abrahams het op 4 Desember, die tussenverkiesing in wyk 9 met 'n allemintige 995 stemme gewen.
Johanna Olivier (ANC) het 642 stemme gekry, Bertram Jantjies (DA) het 353 stemme gekry en Hendrik Botha van Greater Oudtshoorn Civic Association (GOCA) het 29 stemme gekry.
Dit was die tweede tussenverkiesing dié jaar in wyk 9. Jantjies is vroeër die jaar as PA-raadslid in wyk 9 verkies na Chad Louw, vorige ANC-raadslid van Dysselsdorp, uit die ANC bedank het en by die PA aangesluit het. Dit het sy pos vakant gelos en Jantjies is deur middel van 'n tussenverkiesing as die nuwe raadslid gekies.
Jantjies het verduidelik dat hy nie meer gelukkig is by die PA nie en hy het gevoel dat hy as deel van die DA 'n groter verskil in wyk 9 kan maak.
Suzane Jansen, PA-raadslid en speaker van die Oudtshoorn-raad het gesê die uitslag van dié tussenverkiesing is ’n uitslag wat hoop en eenheid vir die gemeenskap van Dysselsdorp bring.
"Hierdie oorwinning is nie net ’n triomf vir die party nie, maar ’n getuienis van wat moontlik is wanneer ’n gemeenskap saamstaan vir verandering en vooruitgang. Ons wil dit beklemtoon dat hierdie oorwinning nie bloot oor politiek gaan nie, maar oor die mense wat dit moontlik gemaak het. Hierdie oorwinning behoort aan elke inwoner wat hul stem gegee het aan hoop en verandering."
Jansen het gesê dat die PA daar is om vir die gemeenskap te werk en gaan by hul beloftes hou.
"Die PA belowe om onmiddellik aandag te gee aan prioriteite soos verbeterde infrastruktuur en werkskepping."