OUDTSHOORN NUUS - Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) sê hulle is gereed vir registrasies van Suid-Afrikaners oor die naweek van 3 en 4 Februarie in aanloop na nasionale en provinsiale verkiesings later vanjaar.
Volgens Michael Hendrickse, Wes-Kaapse provinsiale Verkiesingsbeampte, sal 4 668 OVK-beamptes in die Wes-Kaap die naweek beskikbaar wees om Suid-Afrikaners by te staan met hul registrasie vir die verkiesings.
"Die OVK is versekerd dat die registrasieproses in die provinsie se 1 572 stemlokale vlot sal verloop," het hy in 'n verklaring gesê.
"Ek is bly dat soos dit nou staan, die Wes-Kaapse kieserslys op 3 219 875 staan. Dit is 'n groot prestasie en ek hoop ons kan die komende naweek daarop voortbou met die kieserregistrasie," het Hendrickse gesê.
Wat die registrasieproses gaan vergemaklik is die innoverende Voter Management Devices wat daarop mik om die proses vinnig en doeltreffend te maak.
"Hierdie toestelle, wat jou besonderhede opneem, kan ook funksioneer in 'offline mode', selfs as daar beurtkrag of 'n swak sein is. Al die funksionaliteit van die toestel sal in werkende orde wees. Kiesersinligting wat in die 'offline mode' opgeneem word sal geprosesseer word sodra die toestel aan 'n netwerk konnekteer en sal op die sisteem verskyn," volgens Hendrickse.
Buiten die prosesse wat reeds in plek gestel is om die registrasienaweek vlot tel laat verloop, het Hendrickse gesê dat die polisie ook op bystand sal wees. "Die polisiediens voeg nog 'n laag beskerming by die proses en sal op bystand wees om seker te maak registrasie verloop sonder voorvalle by die stemlokale."
Hendrickse het inwoners herinner dat wanneer hulle registreer en geen formele adres het nie, dat daar slegs van inwoners vereis word om die plek waar hul woon te identifiseer aan 'n OVK-beampte.
"'n Straatadres, plaas, informele nedersetting of spesifieke ligging indien jy haweloos is, is nodig," het hy bygevoeg.
Indien jy 'n nuwe identiteitsdokument met 'n verskillende identiteitsnommer ontvang het, moet mens ook herregistreer met die nuwe nommer, altans sal inwoners nie op die kiesersrol verskyn nie, het Hendrickse gesê. "Maar as jy getrou het en jou van verander het, en jou identiteitsnommer behou het, hoef jy nie te herregistreer nie. Indien jy aansoek gedoen het om jou geslag te verander en jou identiteitsnommer gevolglik verander het, moet jy met jou nuwe identiteitsnommer registreer."
Hendrickse het beklemtoon dat inwoners ook hul registrasie besonderhede moet verander indien daar 'n verandering van adres plaasgevind het.
"Dit is van toepassing al het jy selfs net in die straat af getrek of na 'n ander deel van jou dorp toe. Dit is noodsaaklik dat jy jou besonderhede opdateer vir die stembus naby jou nuwe ligging. Versuim om dit te doen, sal daartoe lei dat jy nie by die stemlokaal by jou nuwe plek kan stem nie, want jy sal op die kieserslys bly waar jy voorheen gewoon het," het hy gesê.
Om die adres wat die OVK vir jou het te bevestig, volg een van die volgende stappe:
- Besoek www.elections.org.za,
- Of SMS jou identiteitsnommer na 32810 teen R1 per SMS,
- Inwoners kan ook 800 11 8000 bel tydens kantoorure,
- Of doen navraag tydens 3 en 4 Februarie by die stemlokaal.
"Slegs as jy jou adres opgedateer het, kan jy seker wees dat jy by die regte stemlokaal gaan stem. As 'n algemene reël sal jy toegelaat word om te stem by die stemlokaal waar jy geregistreer is."
Stemlokale vir registrasie op 3 en 4 Februarie sal tussen 08:00 en 17:00 oop wees, het Hendrickse gesê.
Volgens Hendrickse, indien jy nie die naweek by 'n stemlokaal kan uitkom tot kieserregistrasie nie, kan jy na die OVK-webwerf aanlyn gaan.
"Kiesers kan ook hul registrasiestatus en stemstasiebesonderhede nagaan via ons WhatsApp-kletsbot by 060 088 0000."
Inwoners van die Klein-Karoo kan na die volgende stembusse toe gaan vir registrasie:
- Millerstraat, Calitzdorp;
- Voortrekkerstraat, Bergsig, Calitzdorp;
- Warmbad/Calitzdorp Spa, Calitzdorp;
- Voortrekkerweg, Oudtshoorn;
- Eerstelaan, Bongolethu, Oudtshoorn;
- Van der Westhuizenstraat 23, Wesbank, Oudtshoorn
- Dysselsweg, Dysselsdorp;
- Dwarsweg, De Rust en
- Nelsrivier, De Rust.
Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) sê hulle is gereed vir registrasies van Suid-Afrikaners oor die naweek van 3 en 4 Februarie in aanloop na nasionale en provinsiale verkiesings later vanjaar. Foto verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’