OUDSTHOORN NUUS - Onmin onder raadslede het tydens Dinsdag 22 Oktober se raadsvergadering geheers oor die aanstelling van 'n waarnemende direkteur van gemeenskapsdienste.
Die raad het die bedanking van Noël van Stade as direkteur van gemeenskapsdienste bespreek en moes tydens die raadsvergadering 'n waarnemende direkteur kies tot 'n permanente een aangestel is.
Drie kandidate is tydens die raadsvergade-ring voorgestel - Ian Avontuur, voormalige munisipale bestuurder van Kannaland, Rodwell Witbooi, bestuurder van vaste afval en Earl Jantjies.
Raadslede het egter hewig reageer oor die voorstelle. Chris Macpherson, DA-raadslid, en Vlancio Donson, Icosa-raadslid, het hewig kapsie gemaak teen die voorstelling van Avontuur as waarnemende direkteur. Beide van hulle was dit eens dat Avontuur by bedrog betrokke was toe hy destyds by die Oudtshoorn-munisipaliteit gewerk het en dat hy ook onder verdagte omstandighede by Kannaland weg is.
Ian Avontuur.
Donson het in die vergadering 'n hofuitspraak van 2022 aangehaal waarin regter DM Thulare genoem het dat "Avontuur geen begrip oor die grondwetlike demokrasie het nie. Hy is 'n democratic mess." Donson het ook gesê dat daar genoeg kandidate intern is wat die werk kan doen en dit gaan die belastingbetalers 'n reuseklomp geld kos om 'n buitepersoon aan te stel."
Daar is ook gesê dat Witbooi familie van OGI-raadslid, Colan Sylvester is, maar Sylvester het dit ten sterkste ontken.
Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, het die week gesê die raad het tydens die vergadering besluit om goedkeuring by Anton Bredell, minister van plaaslike regering, te kry om Avontuur as waarnemende direkteur aan te stel.
Intussen is daar tydens die vergadering besluit dat Witbooi sal waarneem tot die besluit deur Bredell gefinaliseer is.
"Avontuur se kwalifikasies en uitgebreide ervaring as senior bestuurder maak hom 'n sterk kandidaat vir hierdie tussentydse rol. Hangende hierdie goedkeuring sal die raad 'n senior munisipale amptenaar aanstel om die rol te aanvaar om kontinuïteit in leierskap en dienslewering te verseker," het Mle gesê.
Sy het bygevoeg dat die Groter Oudtshoorn-munisipaliteit daartoe verbind bly om effektiewe leierskap tydens hierdie oorgang te verseker en sal voortgaan om met die gemeenskap en relevante belanghebbendes in gesprek te tree oor hierdie sleutelontwikkelings.
Salarisverhogings van raadslede
Nog 'n agendapunt wat bespreek is, was die bepaling van salarisverhogings, toelaes en voordele vir raadslede soos uiteengesit in die Staatskoerant No. 51407, gedateer 17 Oktober 2024.
Die regulasie verskaf 'n raamwerk vir die berekening van munisipale gradering gebaseer op sleutelaanwysers soos bruto munisipale inkomste uit geouditeerde finansiële state vir die 2022/23-boekjaar en bevolkingstatistieke van die 2022-sensus.
Volgens Mle is die Oudtshoorn-munisipaliteit, volgens die formule, as 'n Graad 4-munisipaliteit bevestig en is hierdie gradering gebruik om die vergoedingsvlakke vir raadslede te bepaal.
Die raad het Dinsdag die vergoeding vir die 2023/2024 finansiële jaar goedgekeur, maar besluit dat die betaling vir die 2024/2025 finansiële jaar na die raad teruggeneem sal word vir verdere goedkeuring.
Die vergoeding vir 2023/2024 word na Bredell gestuur vir goedkeuring voor uitbetalings gedoen kan word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’