OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit se finansiële posisie het in so mate verbeter, dat die Wes-Kaapse minister van finansies, dr. Ivan Meyer gesê het: "Ek verklaar die munisipaliteit se boeke gesond. Dit was lank in die siekeboeg."
Meyer het verlede week sy oorsig vergadering met munisipale bestuurders, direkteure en raads-lede gehou. Tydens die vergadering het hy sy tevredenheid uitgespreek met die vordering ten opsigte van finansiële bestuur en regering, sedert die nuwe plaaslike regering se oorname.
"Oudtshoorn-munisipaliteit het verseker 'n goeie storie om te vertel. 'n Storie wat hoop en verandering vir die dorp se inwoners te weeg bring.
Burgemeester Colan Sylvester het die provinsiale regering delegasie vertel dat van die suksesverhale is die feit dat die Eskom skuld van R54 miljoen na R6,2 miljoen afgebring is. "Dit sal in Oktober reeds in totaal vereffen word."
"Die totale skuldlas van R110 miljoen, wat die nuwe regering op 3 Augustus 2016 oorgeneem het, is reeds na R22,5 miljoen verminder."
Felix Lötter, direkteur finansies, het in sy voorlegging aan Meyer gesê die munisipale skuldinvordering staan nou op 96%. "Alhoewel die munisipaliteit vroeër as verwag uit sy skuldlas sal kom, sal dit steeds nog vier jaar neem om ten volle te herstel."
Meyer het aangekondig dat die Wes-Kaapse regering R145 453 miljoen in die 2017/2018-finansiële boekjaar aan die Oudtshoorn-munisipaliteit sal oorbetaal. Die geld moet aangewend word vir onder andere die Dysselsdorp- en Kango-grotte paaie se opgradering, asook die herseël van die Oudtshoorn-De Rust-pad.
Hy het ook aangekondig dat 'n verdere R500 000 geallokeer sal word vir die daarstel en bestuur van 'n nuwe sakemodel vir die bestuur van munisipale oorde.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'