OUDTSHOORN NUUS - Die VF Plus en Icosa het vandag ’n kennisgewing uitgereik om die gemeenskap van Oudtshoorn in kennis te stel dat hulle Vrydag 20 Maart, mosies van wantroue ingedien het teen die speaker van die raad, Suzanne Jansen (PA) en die onderburgemeester, Mziwoxolo Tyatya (ANC), wat tans as burgemeester waarneem.
Die mosies moet op die volgende raadsvergadering dien, maar geen datum vir ’n vergadering is tans bekend nie.
Die mosies is op die vooraand van die tussenverkiesing in wyk 5 wat Woensdag 25 Maart plaasvind.
Die wyk is vakant nadat ANC-raadslid, Abraham Tiemie, uit die ANC bedank het.
Johan Allers van die VF Plus het bevestig dat die mosies by die munisipale bestuurder ingedien is volgens voorgeskrewe wetgewing en dat ’n datum vir die vergadering nog nie bepaal is nie.
Chris Macpherson van die DA het in antwoord op ’n navraag gesê, hulle [die DA] het verneem van die mosies, maar is nie vooraf in die saak geken nie.
Volgens hom is daar twee dringende kwessies wat tydens die volgende raadsvergadering moet dien, naamlik die voorlegging van die begroting en die verkiesing van ’n burgemeester nadat Allers verlede maand uit die amp verwyder is tydens ’n raadsvergadering.
Daar word gewag op bevestiging van die munisipale bestuurder dat hy die mosies ontvang het.
Zoe Tyatya en Suzane Jansen. Foto: Liezl van Niekerk
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’