Update
OUDTSHOORN POLITIEKNUUS - Verskeie rolspelers het gistermiddag met Anton Bredell, provinsiale minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning vergader oor die huidige kwellinge op Oudtshoorn.
'n Lid van AfriForum het verlede week aan die Oudtshoorn Courant gesê dat die minister gevra is om dringend met rolspelers op die dorp te kom praat en oop kaarte oor die huidige situasie van die dorp se bestuur te speel.
Die vergadering was beplan vir 14:00 gistermiddag by Turnberry Hotel.
Daar heers tans onderlinge spanning tussen raadslede sowel as spanning tussen die munisipale bestuurder en sommige raadslede.
Twee senior amptenare, Chris Koch (tegniese dienste) en Felix Lötter (finansies) het voorverlede week reeds bedank. Hulle bedankings word glo gekoppel aan die huidige situasie waar raadslede en amptenare koppe stamp.
Lede van AfriForum sowel as die Oudtshoorn-besigheidskamer sou gister se vergadering bywoon. Die uitkoms van die vergadering sal in volgende week se koerant gedek word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'