OUDTSHOORN NUUS - Krake in die regerende Oudtshoorn-koalisie begin stadig maar seker wys.
Dié koalisie, wat uit die DA, VF Plus, Icosa en Saamstaan Suid-Afrika bestaan, is in Mei verlede jaar deur burgemeester Chris Macpherson aangekondig.
Die koalisie-bom het verlede week gebars na 'n Facebook-plasing wat deur oudraadslid, Leon Campher gemaak is. Dit het aan die lig gekom dat VF Plus-speaker Johan Allers, en Johan Duvenhage (VF Plus) saam met ICOSA, Saamstaan, Good en die ANC teen die DA in 'n vergadering op 28 Februarie gestem het. Dit is glo die tweede keer wat dié partye teen die DA stem.
Na afloop van die vergadering was die dorp byna die nuwe winkelsentrum wat op die hoek van Rademeyerstraat en Langenhovenweg beplan word, kwyt.
Een van die agendapunte van die vergadering het gehandel oor die goed-keuring van 'n voorlopige begroting waarin R3,1 miljoen begroot word om 'n rioolpyplyn wat oor die sentrum se erf loop te skuif. Tydens 'n raadsvergadering wat in November 2023 gehou is, is daar besluit dat die munisipaliteit die kostes sal dra om die pyp te skuif en dit is aan die ontwikkelaar bevestig.
Maar, op 28 Februarie het Icosa egter 'n teenvoorstel ingedien dat daar eers 'n regsmening ingewin moet word voordat die R3,1 miljoen aangewend word. Dit is deur die VF Plus en Saamstaan gesteun.
Volgens betroubare inligting wou Dorpstraat die ontwikkeling toe onttrek aangesien hulle nie bereid is om die projek verder te vertraag nie. Hierdie nuus het grootskaalse reaksie van die publiek ontlok.
Agter van links is Vlancio Donson (onderburgemeester), Johan Allers (speaker) en burgemeester Chris Macpherson. Voor sit Veronica Michaels (Saamstaan). Die foto is in Mei 2023 tydens die ondertekening van die koalisie-ooreenkoms geneem. Foto: Liezl van Niekerk
DA
Luidens 'n verklaring van die DA was hulle verras toe hulle koalisievennote "saam met die ANC gespan het om 'n broodnodige ontwikkeling in Oudtshoorn te probeer vertraag."
Die verklaring lui verder: "Wat dit verrassend maak is dat daar 'n getekende koalisieooreenkoms tussen die DA die VF Plus en Icosa is, wat spesifiek voorsiening maak om sodanige situasies te voorkom." Volgens die verklaring het die item op die vergadering gehandel oor die rol wat die raad moet speel in terme van dienstekostes rondom die ontwikkeling.
"Dit moet beklemtoon word dat die item wat die DA voorgestel het reeds by 'n vroeër geleentheid goedgekeur is waar selfs die hoofswepe van ander politieke partye teenwoordig was. Icosa het sonder enige waarskuwing 'n teenvoorstel teen die beoogde ontwikkeling ingedien en die VF Plus en Saamstaan Suid-Afrika sowel as die ANC het Icosa se voorstel ondersteun. Hierdie aksies van die VF Plus en Icosa het plaasgevind op 'n manier wat teenstrydig is met die koalisieooreenkoms. Hierdie teenvoorstel, wat op die oog af onskuldig klink, het die potensiaal om die grootste ontwikkeling wat nog vir Oudtshoorn beplan word, weens kleinlike politiek te laat skipbreuk ly aangesien dit die ontwikkeling onnodig kan vertraag."
Volgens die verklaring "verraai die kleinlike magspolitiek, saamkonkel met die ANC, en eiebelang nie net die koalisieregering nie, maar meer belangrik, is dit verraad teenoor die inwoners van Oudtshoorn."
Dit sê verder dat Macpherson na afloop van die vergadering onmiddellik met onderhandelinge met die ontwikkelaars begin het om te keer dat die ontwikkeling skipbreuk ly en dat die DA duidelikheid vanaf die VF Plus in hierdie verband wil hê.
"Hierdie voorval moet 'n duidelike teregwysing wees dat raadslede van alle politieke partye 'n verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap het en nie teenoor hulself nie."
VF Plus
Dr. Corné Mulder, Wes-Kaapse leier van die Vryheidsfront Plus, het die week gesê dat die gebeure in die vergadering groot kommer wek, maar dat die party niks afgekeur het nie en dat hulle nog altyd in die beste belang van die gemeenskap opgetree het.
Volgens hom het die DA op 28 Februarie besluit om 'n besluit wat in November 2023 geneem is, te verander op 'n wyse wat ontwrigtend was.
"Die sentrum ... het versoek dat hy korting vir twee jaar op sy eiendomsbelasting/dienste moet ontvang ter waarde van R3,1 miljoen (die bedrag wat dit sal kos om die pyplyn te skuif) indien hy 'n rioolpyp op eie koste skuif. Nadat daar reeds in vorige raadsbesluite kortings toegestaan is, het die ontwikkelaar teruggekeer na die munisipaliteit en versoek dat die munisipaliteit die rioolpyp op sy koste skuif. VF Plus-raadslid, Johan Duvenhage, het in die raad voorgestel dat die munisipaliteit eerder die item moet verwys vir 'n regsmening om te bepaal wie verantwoordelik is vir die skuif van die pyp. Die voorstel was ook dat die R 3,1 miljoen uit die begroting van infrastruktuur sou kom, indien die regsmening sou aandui dat dit die munisipaliteit se verantwoordelikheid is," lui die verklaring.
Mulder het verder gesê dat die DA- inwoners van Oudtshoorn onder die indruk wou bring dat die VF Plus die dorp 500 werksgeleenthede sou kos.
"Daar is ook 'n valse indruk geskep dat die VF Plus saam met ander partye in die aangeleentheid staan. Verder is dit ook vals om te beweer dat die ontwikkeling 'afgekeur' is, omdat 'n raad nie die bevoegdheid het om 'n ontwikkeling goed- of af te keur nie. Die VF Plus stel deursigtigheid en die beste belang van inwoners altyd eerste."
Icosa
Vlancio Donson, onderburgemeester en Icosa-raadslid, het verduidelik dat hulle nie die begroting afgekeur het, maar vir 'n regsmening gevra het oor die pyplyn.
"Die begroting is goedgekeur met die R3,1 miljoen wat vir riolering begroot is, ons wou net seker maak van die feite voordat ons dit spesifiek vir daardie doel allokeer."
Volgens Icosa is hulle en Saamstaan dit eens dat hulle geen mosies beplan nie.
"In koalisies verskil partye met mekaar. In die voorafkoukus het die DA geweet dat daar 'n meningsverskil is, en dat ons nie gaan saamstem nie. Die huis is deurmekaar, dit gebeur, ons moet dit net weer regmaak."
Sentrum gaan voort
Walter Hendricks, die munisipale bestuurder, het Maandag 4 Maart bevestig dat die ontwikkeling voortgaan.
"Na die raadsvergadering was daar uiteenlopende berigte en gerugte, ... maar die situasie is intussen uitgeklaar en die ontwikkeling gaan voort."
Volgens Macpherson was daar dringende onderhandelinge met die ontwikkelaar na afloop van die vergadering. Die munisipaliteit het bevestig dat die munisipale rioolpyp wat oor die ontwikkelaar se grond loop op die koste van die munisipaliteit geskuif sal word.
"Hierdie is die grootste ontwikkeling wat nog in Oudtshoorn aangepak word en is van kardinale belang vir die dorp en sy inwoners," aldus Macpherson.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’