OUDTSHOORN NUUS - Dit blyk dat daar skaars 50 dae na die plaaslike verkiesing reeds ontevredenheid in die koalisieregering is en OGI dreig om die koalisie te verlaat.
Met geen party wat 'n volstrekte meerderheid op 1 November behaal het nie, word die raad tans deur 'n koalisie van die ANC, Icosa, SK Saamstaan, PA, Dysselsdorp Advieskantoor en OGI beheer.
OGI se raadslid, Colan Sylvester is die speaker, Chad Louw van die ANC is die burgemeester en Vlancio Donson van Icosa is die onderburgemeester.
Patrick Sambo, sekretaris generaal van OGI het Maandag 'n verklaring uitgereik waarin hy aandui dat OGI nie gelukkig is met die koers wat die koalisie tans inslaan nie.
Verskeie aantygings word gemaak oor onder andere aanstellings en koalisie-ooreenkomste wat nie nagekom word nie. Dit blyk dat 'n koalisie bestuursooreenkoms waarvolgens alle koalisiepartye deel van besluitneming sou wees nog nie opgestel is nie.
Die persverklaring volg na 'n raadsvergadering verlede Vrydag. Nog 'n raadsvergadering word môre gehou wat moontlik meer lig op die kwessie sal werp.
Die burgemeester, Chad Louw, het ook intussen 'n verklaring uitgestuur waarin hy sê dat daar nie toegelaat sal word dat politieke partye die raad manipuleer nie.
Een van die kwessies waaroor OGI te velde getrek het, is die aanstelling van Walter Hendricks en die verlenging van sy aanstelling. Louw het die versekering gegee dat geen onregmatighede geduld sal word nie.
As in ag geneem word dat die koalisieregering skaars twee maande oud is, word die vraag gevra hoe die stabieliteit van Oudtshoorn se regering oor die volgende vyf jaar sal verloop.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'