Update
LADISMITH NUUS - Om by te hou by die politiek in Kannaland is nie 'n maklike taak nie. Sedert die verkiesing het Kannaland drie verskillende burgemeesters gehad.
Jeffrey Donson is in Januarie vanjaar uit die stoel gelig na drie mosies van wantroue teen hom, Werner Meshoa (onderburgemeester) en die verteenwoordiger van Kannaland-munisipaliteit in die Garden Route-distriksraad, Hyrin Ruiters ingesit is.
Nicky Valentyn, van die ANC, is tot burgemeester verkies. Valentyn was die speaker van die raad en moes dus vervang word en Rodge Albertus van die Kannaland Independent Party (KIP) is as die nuwe speaker verkies. Leonie Stuurman (ANC) is die nuwe onderburgemeester en Aletta Steenkamp (DA) is as verteenwoordiger in die Garden Route-distriksraad verkies.
Valentyn en Stuurman is deur die ANC geskors omdat hulle met die DA saamgewerk het om Icosa uit die stoele te lig.
OVK-brief
Op 28 Februarie het die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) 'n brief ontvang waarin daar staan dat Valentyn plek moet maak vir sy goeie vriend, Anthony Ewerts, as raadslid. Albei is van die ANC.
Luidens die brief moet raadslid Leoni Stuurman op haar beurt vervang word met die jong vuurvreter-politikus Bradley Benades.
Dié skrywe van die OVK van 28 Februarie gee Kannaland se waarnemende munisipale bestuurder, Ian Avontuur, kennis van die vervanging van die raadslede soos bepaal word deur die Wet op Munisipale Strukture.
Saak na hooggeregshof
Valentyn en Stuurman het egter nie net gaan lê na hul skorsing deur die ANC nie en het die saak na die Kaapse Hooggeregshof geneem.
Die verkiesingskommissie van Suid-Afrika, die ANC, Anthony Ewerts, Bradley Benades, Jeffrey Donson, Werner Meshoa, Hyrin Ruiter en die munisipale bestuurder van Kannaland het die saak teengestaan.
Die hooggeregshof het Maandag 14 Maart die skorsing onwettig verklaar. Daar is ook besluit ten gunste van Valentyn en Stuurman. Hulle het ook hul saak met kostes gewen.
"Ek is net baie verlig, nie net vir myself nie, maar ook vir die mense van Kannaland wat deur moeilike omstandighede die afgelope tien jaar is. Ek wil daar wees vir die geringstes, nie vir myself of 'buddies' nie.
"Ek is dankbaar vir die Vader vir hierdie hofuitspraak," het Valentyn gesê.
Valentyn en Stuurman is weer in hulle posisies as burgemeester en onderburgemeester aangestel.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'