PRINS ALBERT NUUS - Die huidige burgemeester van Prins Albert, Linda Jaquet, is deur die DA aangewys as dié party se burgemeesterskandidaat vir die 2026 munisipale verkiesings.
Die aankondiging is die afgelope naweek deur Tertuis Simmers, die DA-leier in die Wes-Kaap gemaak.
Volgens die mediaverklaring wat deur sy kantoor uitgereik is, was Jaquet se betrokkenheid by politiek 'n natuurlike uitbreiding van haar gemeenskapsbetrokkenheid.
Sy het in 2014 die DA-voorsitter van wyk 2 geword omdat sy geglo het sy sal 'n groter verskil maak as sy aktief betrokke raak by die vind van oplossings vir die gemeenskap se uitdagings.
Sy is in 2016 as wyksraadslid verkies en weer in 2021.
Jaquet in 2022 as burgemeester verkies toe die DA tydens 'n tussenverkiesing 'n volstrekte meerderheid in die raad behaal het. Onder haar leiding is Prins Albert verlede jaar deur Ratings Africa aangewys as een van die land se 10 mees finansieel volhoubare munisipaliteite in die land.
In reaksie op 'n navraag oor haar rol as burgemeester en haar nominasie as kandidaat vir die 2026-verkiesing het Jaquet gesê sy wil graag dat Prins Albert vooruitstrewend wees, en nie bloot oorleef nie.
"Ons is deeglik bewus van die uitdagings en het 'n duidelike langtermyn finansiële plan. Ons kan die toekoms nie alleen bou nie, dit neem vennootskappe om die ekonomie in elk van ons dorpe te laat groei en omstandighede te skep wat beleggings sal lok."
Prins Albert-munisipaliteit sluit Klaarstroom, Prins Albertweg en Leeu-Gamka in.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’