OUDTSHOORN NUUS - Die VF Plus, tesame met Icosa en die DA, het 'n mosie van wantroue teen die Oudtshoorn-burgemeester, Mziwoxola Zoe Tyatya (ANC), ingedien.
Die mosie is op 10 Junie, deur die VFPlus-raadslid, Johan Allers, op sosiale media bekendgemaak. Volgens die plasing volg die mosie nadat 'n strafregtelike klag by die polisie aanhangig gemaak is rakende 'n beweerde onreëlmatige Salga-reis- en/of verblyf-eis wat deur Tyatya ingedien is wat betrekking het op 'n rit na Caledon op 10 of 11 Mei.
'n Navraag is aan die polisie gestuur om die klag te bevestig.
Volgens Allers het die speaker, Suzane Jansen, die mosie ontvang en sal dit by die volgende raadsvergadering dien. Dit is nog nie bekend wanneer die volgende raadsvergadering sal plaasvind nie.
Hierdie mosie volg minder as twee weke nadat 'n mosie van wantroue teen die speaker, ingedien deur die VF Plus, DA en Icosa, op 29 Mei nie geslaag het nie. Met die indiening van daardie mosie op 21 Mei het Allers ook aangekondig dat die VF Plus terselfdertyd 'n kriminele klag by die polisie ingedien het.
Daardie klag hou verband met beweerde onreëlmatige tenders, finansiële onder-steuning en die misbruik van openbare fondse.
Burgemeester versoek om te bedank
Nadat die klag teen Tyatya bekendgemaak is, het raadslid Aswil Oktober (Good) 'n brief aan Tyatya gerig waarin Tyatya versoek word om as burgemeester te bedank. Oktober is vroeër vanjaar deur Good as raadslid in Oudtshoorn aangestel na 'n interne herrangskikking van die party.
Hy het Sonia Bentley se plek ingeneem en sy het op haar beurt weer Oktober se plek op die raad van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit ingeneem.
Ten tyde van die omruiling van die twee kandidate was dit algemeen bekend dat Bentley se steun na die VF Plus geneig het.
Nadat Johan Allers as burgemeester verwyder is en Tyatya tot burgemeester verkies is, het Good deel van die ANC-koalisie gevorm saam met die PA, Saamstaan, OGI en Advieskantoor.
'n Gedeelte van Oktober se brief lui as volg: "I'm writing as a concerned coalition partner and Councilor of the Oudtshoorn Municipality to formally request your resignation from office, effective immediately. The corruption charges recently filed against you undermine public trust in our local government. Public office requires integrity, transparency and accountability."
Hy gaan voort deur te sê dat hy die regsproses respekteer sowel as Tyatya se reg om op die klagtes te reageer, maar dat die vertroue deur die mense wat gedien word, reeds verbreek is.
'n Navraag is aan Tyatya gestuur met 'n versoek om op die mosie sowel as die klagtes teen hom te reageer.
Nog Tyatya of die polisie het op die navrae reageer nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’